MunicipalNews

Munisipaliteit ignoreer hofbevel, sny sakevrou se munisipale dienste

Me. Meisie Greyling het in 2013 ’n hofbevel gekry wat Govan Mbeki Munisipaliteit verhoed om elektrisiteit en water na haar eiedomme te sny maar munisipale werkers het steeds dienste gesny.

Govan Mbeki Munisipaliteit het in Maart Operasie Koleka Di Koloto (Kodiko) geloods.

Dit is ’n skuldinvorderingsprojek wat behels dat dienste soos elektrisiteit en water by ondernemings met agterstallige rekeninge afgesny word.

Die doel van die projek is om ondernemings aan te moedig om hul agterstallige rekeninge te betaal en sodoende die inkomste van die munisipaliteit te verhoog.

Hoewel dié aksie nodig is, voel sommige eienaars al moedeloos omdat die krag en water by hul ondernemings al verskeie kere verkeerdelik afgesny is.

Wanneer daar ’n dispuut op ’n rekening verklaar word, mag munisipale dienste nie afgesny word totdat die dispuut opgeklaar is nie, maar dit is nie die geval vir ondernemings soos Hoëveld Bande op Bethal nie.

Me. Meisie Greyling besit verskeie eiendomme en ondernemings op die dorp, waarvan Hoëveld Bande een is, en sukkel al ’n geruime tyd om haar munisipale rekeninge te laat regstel.

Na ’n herwaardasie van eiendomme in 2008 het me. Greyling beswaar aangeteken teen van haar eiendomme se nuwe verhoogde waardasies.

Sy is kort daarna deur die munisipaliteit in kennis gestel dat die besware afgekeur is.

Me Greyling en haar prokureur, mnr. Gerrie Cronjé, het die saak na die Appélhof geneem waar haar appél teen die nuwe waardasies geslaag het.

Na die Appelhof se beslissing moes Govan Mbeki Munisipaliteit regstellings aan al me. Greylings se rekeninge aanbring omdat verhoogde eiendomsbelasting reeds by die rekeninge bygevoeg is.

“Ek het verskeie mense by Govan Mbeki Munisipaliteit genader om die rekeninge reg te stel, ek het briewe geskryf en hulle gaan sien, maar niemand het belanggestel om my te help nie,” het me. Greyling gesê.

Tot dusver is nog nie een van me. Greyling se meer as 20 rekeninge al reggestel nie en intussen was daar weer ’n herwaardasie van eiendomme in 2012 waar sy weer beswaar aangeteken het en dit is weer deur die munisipaliteit afgekeur.

Me. Greyling en mnr. Cronjé het in Oktober 2013 ’n hofbevel teen Govan Mbeki Munisipaliteit gekry om te verhoed dat krag of water by haar eiendomme gesny word.

Nadat daar geen vordering in die saak was nie, het me. Greyling weer in Januarie 2016 die saak na die Appélhof op Secunda geneem waar die hof weer bevind het die waardasies op haar eiendomme is te hoog is en dat haar rekeninge reggestel moet word.

Weer is daar geen regstellings aan die rekeninge gemaak nie en die verhoogde tariewe is nie gekrediteer nie.

Die munisipaliteit het sedert 2008 verskeie kere dienste by haar eiendomme gesny al was die rekeninge ten volle betaal volgens die hof se waardasies van die eiendomme.

Me. Greyling beskik oor ’n brief waarin Govan Mbeki Munisipaliteit erken het dat die appélaansoeke geslaag het en dat regstellings aan die rekeninge gemaak sou word.

Ten spyte van die hofbevel teen die raad, het munisipale werkers wat besig was met Projek Kodiko op 8 Maart Hoëveld Bande se elektrisiteit afgesny en het eers weer die krag op 17 Maart aangesit.

“Om ’n kragopwekker te huur en brandstof daarvoor te koop, het my meer as R33 000 gekos om krag aan my onderneming te voorsien en ek hou die munisipaliteit daarvoor aanspreeklik,” het me. Greyling gesê.

Hulle het ook op 8 Maart ’n ander eiendom waar Gear-Tech geleë is, se water afgesny deur die watermeter heeltemal te verwyder.

Beloftes is gemaak om die water tot die perseel te herstel teen 21 Maart, maar die watermeter is steeds nie teruggesit nie.

Me. Greyling beplan om ’n tweede hofbevel teen Govan Mbeki Munisipaliteit te kry om die water na die perseel te herstel. Die munisipaliteit is om kommentaar gevra, maar hulle het nie teen druktyd gereageer nie.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser

For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button