So kan lesers Baba Luke en sy gesin ondersteun
Omdat die mediese fonds nie sy koste vir die neonatale intensiewe sorgeenheid betaal nie, is gesin se rekening reeds meer as ’n miljoen rand.

Baba Luke Britz is op 14 Februarie op 28 weke gebore en het ’n skrale 1.035kg by geboorte geweeg.
Luke is nou 38 weke oud en weeg al 1,80kg.
Hy veg sedertdien om sy lewe en het reeds vier keer by die dood omgedraai.
Sy ma, me. Hanri Britz, moes ’n noodkeiser ondergaan nadat die vliese van haar vrugwatersak op 28 weke van haar swangerskap geskeur het.
Wanneer die vliese van die vrugwatersak skeur, loop die vrugwater uit.
Dokters kan nie verduidelik waarom dit gebeur het nie.
Omdat die mediese fonds nie sy koste vir die neonatale intensiewe sorgeenheid betaal nie, is hul rekening reeds meer as ’n miljoen rand.
Om geld in te samel, word funksies en geleenthede, soos die stalletjiedag wat op 6 Mei op Zandfontein Perdeplaas plaasvind, beplan.
Die Beauty Therapy Institute op Trichardt gaan ook ’n pamperlangdag op 20 Mei hou.
Vollyf-, rug- en nekmasserings, manikure en pedikure gaan teen kosprys aangebied word.
Dit is noodsaaklik om te bespreek om teleurstelling te voorkom.
Nadat die Ridge Times oor Luke berig het, is daar reeds geld in die rekening inbetaal en Our Place Sports Pub op Trichardt stel hul saal gratis tot beskikking sodat Manie Jackson op 31 Mei daar kan optree.
“Luke is ons eerste kleinkind en ons wil net hê dat Boetie moet huis toe kom sodat ons hom kan bederf,” het me. Esti Smit, me. Hanri Britz se ma, gesê.
“Ek wens my kind het nie nodig gehad om hierdeur te gaan nie.
“Sy is baie sterker as wat baie mense gedink het sy is.”
Lees ook: Baba Luke veg om sy lewe
Lees ook: Pastoor Hannes Smit (50), baba Luke se oupa, dood aan hartaanval
As jy vir Baba Luke kan help, kan jy geld in die volgende rekening inbetaal, ’n stalletjie by die stalletjiedag bespreek of die verskillende geleenthede ondersteun waar daar geld vir hom ingesamel word: Luke Britz, Capitec Bank Secunda-tak, spaarrekeningnommer 151 424 3545.
Vir meer inligting oor die stalletjiedag, skakel Carel by 062 989 5945.
Om te bespreek vir jou vollyf-, rug- en nekmasserings, manikure en pedikure teen kosprys, skakel Yolandi by 082 499 1268.
Vir navrae oor die ander geldinsamelingdae, skakel me. Smit by 074 601 6312.



