Secunda-vrou deur swendelaar ingedoen
Vrou het bykans R200 000 verloor en waarsku mense teen sogenaamde vriende wat hulself in jou lewe inwurm.

Bykans 18 maande nadat ‘n vriendelike, goed gemanierde en saggesproke jong man in haar lewe ingeloop het, het ‘n Secunda-vrou uiteindelik besef dat hy ‘n swendelaar van formaat is en wil sy graag ander mense waarsku.
“Ek het hierheen getrek saam met my man, maar hy is twee jaar gelede oorlede, so ek was alleen.
“‘n Paar maande na sy dood, het ek ‘n man wat sowat 20 jaar jonger as ek is, ontmoet.
“Hy het vir my gesê hy is ‘n berader en ek het sy vriendskap waardeer.”
“Ek het geweet dat hy sukkel om sy huur te betaal en ook nie eers elektrisiteit of selfoonlugtyd kon bekostig nie, so ek het hom elke nou en dan met geld begin uithelp.
“Hy het op daardie stadium in sy kantoor geslaap en het net ‘n bed gehad en ek het vir hom kombuisware en kos gekoop, asook klere.”
Sowat agt maande nadat sy hom die eerste keer ontmoet het, het hy met haar gepraat oor sy dogter se troue.
“Hy het verduidelik dat sy dogter êrens in die Kaap trou en dat hy nie genoeg geld kon bymekaar kry vir sy vliegtuigkaartjie om by die troue te wees nie.
“Ek het die heeltyd gedink hy is mos nie ‘n vreemdeling nie en ek het selfs vir hom kontant gegee as ‘n trougeskenk vir sy dogter.”
Kort na sy terugkeer van die troue af, het hy haar vertel van ‘n kursus waarvoor hy homself ingeskryf het wat vir hom baie deure sou oopmaak.
“Ek het weer vir hom geld geleen vir die kursus, vervoer, verblyf, alles wat hy nodig gehad het.”
Na die eerste kursus het sy hom met nog ‘n kursus bygestaan en kort daarna het hy met die goeie nuus gekom dat hy ‘n goeie pos in Sjina aangebied is.
Hy het verduidelik dat hy geld nodig gehad het om in Sjina te kom en omdat sy hom tot dusver gehelp het en ook betaal het vir die kursusse, het hy haar weer gevra vir geld om sy vliegtuigkaartjie en verblyf te betaal.
“Ek het hom toe nog heeltemal vertrou, want met die nuwe werk sou hy my kon terugbetaal.”
Sy het hom bygestaan en hom selfs lughawe toe geneem.
Op sy verjaarsdag ‘n maand later, het hy haar geskakel en gevra om hom uit te help, want hy wou sy kollegas vir ete nooi.
Sy het R6 000 na sy rekening oorbetaal, maar hy het laat weet dit was nie genoeg geld nie.
Sy het nog R2 500 oorbetaal en gevra dat hy seker moes maak dat dit in sy rekening is.
“Daardie dag was die heel laaste keer dat ek met hom gepraat het.
“Hy het my op alles geblokkeer, op Whatsapp, Facebook, telefoonoproepe, niks het deurgegaan nie.”
Sy was eers baie kwaad toe dit duidelik geword het dat hy haar gekul het.
“Ek was ongelooflik seergemaak, jy kan nie verstaan wat dit aan mens doen om só in die rug gesteek te word nie.
“My selfvertroue is geruk en ek het dom gevoel en ek wil mense waarsku teen skelm mense wat hul pad in jou lewe en jou hart inwurm en jou dan so verniel.”
Volgens ‘n kenner op die gebied van dié soort bedrog, moet mens nie jouself blameer nie.
“Dié mense is leuenaars wat daarop uit is om jou mees sensitiewe eienskappe te ontbloot en te teiken.”
Nou, bykans agt maande nadat sy die laaste keer met hom kontak gehad het, het sy net een wens: “Ek wil hê hy moet my kontak.
“Ek weet ek moet die saak verder neem en is van plan om dit te doen, maar wil net eers probeer om die ding privaat uit te sorteer sonder om deur die howe te gaan.
“Hy weet wie ek is, hy ken my eposadres en selfoonnommer en hy moet nou die regte ding doen en my so gou as moontlik kontak.”



