Jaco se messe is sy passie
Jaco reken oor die afgelope 20 jaar het hy al sowat 1 000 messe gemaak.
Dit word dikwels tong in die kies gesê dat mans nie grootword nie; hulle speelgoed word net duurder.
In sommige gevalle gevaarliker ook.
Jaco Erasmus maak messe.
Enige messe – van die kleinste selfverdedigingsmesse tot 1,2 m lange pangas.
Vandat hy ’n klein seuntjie was, het hy goed uitmekaar gehaal, maar kon dit selde weer aanmekaar sit.
Hy was nog maar altyd tegnies aangelê.
Sy messe is oor Suid-Afrika en selfs in oorsese lande versprei.
Oorsese jagters wat jaarliks na Suid-Afrika kom, koop sy slagmesse.
Hy bou altyd ’n voorraad voor die jagseiesoen op.
Vrouens koop ook baie messe vir manlief as geskenke en hy maak ook messe op bestelling as korporatiewe geskenke.
’n Vriend wat toevallig in die vertrek was toe ons gesels, het gesê: “’n Man kan nooit genoeg messe hê nie.”
Sy messe is volgens hom heel bekostigbaar en pryse wissel van R400 tot R1000 per mes na gelang van die spesifikasies. Dit kan meer of minder ook wees.
Jaco het ongeveer op 16-jarige ouderdom begin rondspeel met messe maak in sy pa se werkswinkel en toe het die gogga hom behoorlik gebyt.
Hy sê hy werk so ’n dag lank aan ’n mes en doen alles met sy eie hande.
Hy maak selfs die leerskede waarin die mes pas self.
Van massaproduksie is daar geen sprake nie.
As jy hom ’n geskenk wil gee wat sy hart regtig sal verbly, is ’n stuk goeie hout, perdbeen. takbokhoring of ivoor altyd ’n goeie keuse.
Hy maak die hef van die mes daarmee.
Jaco is getroud met Angel, soos hy haar liefderyk noem, en hulle het ’n nege-jarige seun, Michael.
Michael deel sy pa se belangstelling, maar Jaco laat hom nog nie op die masjiene werk nie. Hy speel nog so rond met die hewwe van die messe.
Jaco reken oor die afgelope 20 jaar het hy al sowat 1 000 messe gemaak.
Hy het ander stokperdjies wat hom ook besig hou en bied ook selfverdedigingskursusse aan.
Sy vrou het ’n pragtige en gesonde kruietuin.
Op ’n vraag of dit nie eensaam raak so alleen in sy werkswinkel nie, het hy geantwoord dat hy heel gelukkig is met sy eie geselskap en dat hy heeltyd dink aan nuwe ontwerpe vir messe.
Jaco brei nie veel uit nie, maar uit ons gesprek kon ek aflei dat hy ’n man van vele talente is.
As jy met hom wil gesels oor sy messe of dalk een wil bestel, skakel Jaco by 076 964 3897.
Lees ook: Dié hande is nooit ledig
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



