Local newsNews

’n Kuier in Tharina se pragtuin

Pas nadat die teedrinkery en kuier verby is, het die son deurgebreek en kon die geselskap deur die tuin stap.

’n Groep vroue van Ermelo Tuinbouklub het Woensdag, 15 November in wat hulle noem “Die pragtuin van Tharina Greyling” naby Wakkerstroom gaan kuier.

Die besoek het ook as hul jaareindfunksie gedien.

Volgens die vroue van die klub het Tharina baie moeite gedoen om haar tuin gereed te kry vir dié kuier en reëlings te tref om die vroue te ontvang.

Ten spyte van die welkome reën die vorige dag was die vroue vasberade om die tuin te besigtig en het hulle soos wafferse 4×4-bestuurders die gladde modderpad in gietende reën aangedurf.

Die vrolike groep vrouens het lekker in volgens hulle, Tharina se pragtige huis, gekuier.

Tharina het die geskiedenis van die pragtige tuin met hulle gedeel.

Haar skoonouers, Jan en Trudie Greyling, het ’n mielieland omskep in die pragtuin en die huis gebou in 1982.

Trudie het het die tuin met liefde van niks tot die pragtuin wat dit vandag is, omskep totdat Tharina en haar man, Corneels, in 1996 oorgeneem het en haar werk voortgesit het.

Tharina het geborrel toe sy die vroue vertel het hoeveel die tuin vir haar en haar gesin beteken en hoeveel vreugde hulle daaruit put.

Dit was vir die vroue ook duidelik hoe ’n groot aandeel Corneels in die tuin het en hoe trots hy daarop is.

Pas nadat die teedrinkery en kuier verby is, het die son deurgebreek en kon die geselskap deur die tuin stap.

Volgens Elmarie Celliers (voorsitter van die Ermelo Tuinbouklub) was die kuier in Tharina se tuin een van die hoogtepunte van die klub se jaar en ’n baie gepaste wyse om die jaar mee af te sluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button