Local newsNews

Braack-egpaar van Secunda reik uit na kinderhuis

Egpaar is al 20 jaar by projekte betrokke.

Mnr. Thys en me. Lynnette Braack van Secunda het nog altyd ’n liefde en passie vir weeskinders gehad.

“My ma het altyd kinders in pleegsorg gehad en uitgereik na kinderhuise en ek het dit by haar gesien,” het me. Braack vertel.

Sy en haar man het baie tyd by kinderhuise begin bestee toe hulle nie kinders van hul eie kon kry nie.

Die egpaar ken mekaar al sedert hul skooldae en het op Brakpan grootgeword.

Hulle woon al 33 jaar op Secunda en het kort nadat hulle hierheen verhuis het, hul tweede baba aangeneem.

Hul eerste aangenome seuntjie was toe drie jaar en nege maande oud.

Die kindersorgvereniging het hulle geskakel toe ’n babadogtertjie beskikbaar vir aanneming was en die egpaar moes binne ’n paar ure haar kamer gereed kry.

Mnr. Thys Braack, Andey Wrigley, me. Lynnette Braack en mnr. Wouter en me. Elise Havenga. Mnr. Havenga is me. Braack se broer en het saam met die Braack-epaar gehelp om Andey se drie grootste wense te bewaarheid.

Vandag is albei hul kinders getroud en die egpaar is al grootouers van drie kleinkinders.

Hul seun en sy gesin woon in Australië en hul dogter en haar gesin in Pretoria.

Mnr. en me. Braack neem elke twee maande klere, kruideniersware en geskenkpakkies vir die kinderhuis in Modimolle (Nylstroom) waar hulle al die afgelope 20 jaar betrokke is, asook na die Maria Kloppers Tehuis vir ongehude moeders in Johannesburg.

Dié tehuis is deel van die Abraham Kriel Langlaagte Kinderhuis.

“Die tehuis het net baba’tjies en ons neem gewoonlik klere, doeke en ander baba-items.

“Dit is wonderlik om die groter kinders by die kinderhuis se gesiggies te sien as hulle hul geskenkpakkies oopmaak.”

Die egpaar het deur die jare verhoudings met meeste van die kinders by die kinderhuis opgebou en die kinders is nog elke keer opgewonde as hulle daar gaan kuier.

“Meeste van die kinders is nie wees nie, hul ouers is net nie in staat om vir hulle te sorg nie,” het me. Braack gesê.

Sy het al baie hartseer gesien en het onlangs ’n blaaskans geneem, maar sy het egter weer betrokke geraak nadat die kinderhuis haar genader het.

Me. Braack het vir 20 jaar by Sasol gewerk en in 2012 as ’n fasiliteerder van die induksieprogram afgetree.

Projekte:

Sy werk nou van die huis af en ontwikkel opleidingshandleidings en doen vertaalwerk op vryskutbasis.

Een van haar projekte by die kinderhuis was om handdoeke en waslappe vir al 174 kinders te borduur met hul name en ’n prentjie op.

Die egpaar het tydens ’n ander projek ’n paar jaar gelede, matriekafskeidsrokke bymekaar gemaak en hulle kon 49 rokke by die kinderhuis aflewer.

In haar vrye tyd brei of hekel me. Braack graag of doen borduurwerk of naaldwerk of werkskaf in die tuin.

Die egpaar het ook ’n passie vir diere en is by die nie-winsgewende dierewelsynsorganisasie, Little Paws Big Hearts, betrokke.

As jy me. Braack se projekte by die kinderhuis wil ondersteun, skakel haar by 082 939 9242 of skakel die kinderhuis by 014 717 5264.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button