Manna vir Teksa-projek voorsien brood aan honger kinders
Mnr. Koortzen het in Mei 2014 die P19V17 Bakkery by Osizweni Opleidingsentrum tussen Evander en eMbalenhle oopgemaak.
Mnr. Conrad Koortzen het die Manna vir Teksa-projek op Secunda in 2004 begin en sy visie was om vir honger kinders nie net fisiese brood te gee nie, maar ook geestelike brood.
Hy het geestelike brood gegee deur ’n Bybelversie saam met elke toebroodjie in die sakkie te plaas.
In die begin het mnr. Koortzen self die broodjies gesmeer en by skole afgelewer, maar die projek het só gegroei dat hy nou koördineerders het wat hom help.
Die projek voorsien weekliks 800 brode en konfyt aan 12 skole in eMbalenhle, Secunda, Trichardt en Evander.
Hulle voorsien ook brood aan die Tutela-welsynsorganisasie.

Nuwe deure het vir mnr. Koortzen oopgegaan toe hy in 2014 met Sasol se hulp ’n bakkery kon open as deel van ’n gemeenskapsontwikkelingsprojek.
Mnr. Koortzen het in Mei 2014 die P19V17 Bakkery by Osizweni Opleidingsentrum tussen Evander en eMbalenhle oopgemaak.
“P19V17 is Spreuke 19:17,” het mnr. Koortzen gesê.
Dié vers lui: “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here en Hy sal hom ten volle vergoed.”
Die bakkery bak net genoeg brode wat Manna vir Teksa by hulle bestel en dan aan behoeftige kinders by skole uitdeel.
“Nou weet ons daardie spesifieke kinders, wat nie by hul huise kos kry nie, kry ten minste een keer elke dag iets om te eet,” het mnr. Koortzen gesê.
Die bakkery het werk geskep vir drie werkloses wat nou voltyds by die bakkery is.
Hulle het altyd margarien ook aan die skole gegee, maar dit het te duur geword.
Mnr. Koortzen beplan om op kreatiewe maniere weer Bybelversies saam met die toebroodjies te versprei in die nuwe jaar en het die publiek aangemoedig om met hom in verbinding te tree as hulle enige voorstelle het van hoe hy dié idee kan laat realiseer.
Hy het al die selgroepe, individue en hul borge, wat Sasol, MegChem, die N.G. Kerk Goedehoopgemeente en Albany Bakkery insluit, bedank.
Vir meer inligting oor Manna vir Teksa, skakel mnr. Koortzen by 082 774 6510.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



