Local newsNews

Seun se been byna geamputeer nadat hy in spyker trap

Kiem het deur ’n wond op sy voet toegang tot sy liggaam gekry.

Nathan Philpott (17) van Secunda was ses jaar oud toe hy met osteomiëlitis gediagnoseer is.

Dié kiem het deur ’n wond op sy voet toegang tot sy liggaam gekry nadat hy in ’n spyker getrap het.

Osteomiëlitis is ’n infeksie wat in die gebeendere voorkom.

Dit kan ’n been bereik wanneer dit deur die bloedstroom beweeg of uit nabygeleë weefsel versprei.

Infeksies kan ook in die been self begin wanneer ’n besering die been aan kieme blootstel.

Dit kan suksesvol met antibiotika behandel word as dit vroeg gediagnoseer word.

Nathan het op ’n plaas grootgeword en soos meeste seuntjies, dit geniet om kaalvoet rond te hardloop. Hy het in 2007 in ’n spyker getrap wat teen die been van sy hakskeen gedruk het. Dié spyker het ’n hap uit die hakskeenbeen gekap.

Hy het nie vir sy ma vertel dat hy in die spyker getrap het nie omdat hy dit nie as ernstig beskou het nie.

Die Philpott-gesin was op pad om na Australië te emigreer.

Nathan kan self nie baie van die voorval onthou nie, maar sy ma, me. Natasha Philpott, het vertel: “Ons was reeds op die lughawe.

“Nathan het gekla dat sy voet seer is. Ek het vir hom gesê dat sy voete seer kan wees omdat ons so ver gestap het en dat ons amper op die vliegtuig gaan klim waar hy rustig kan wees en kan slaap.

“Ons was twee ure in die lug toe hy koorsstuipe begin kry het.

“Die lugwaardin het mense gevra om te skuif sodat hy kon lê.

“Teen daardie tyd het hy reeds sy bewussyn verloor.

“Die lugwaardin het ’n plakker teen sy voorkop geplak om sy koors te meet.

“Sy koors was 42 grade.”

Terwyl hy gelê het, het Nathan se ma gesien dat sy kous baie styf oor sy enkel gespan het.

Hulle moes dit afsny en sy voet was reeds só geswel dat die vel begin oopskeur het.

Hul eerste stop was in Dubai en ’n dokter wat hulle daar gesien het, het verduidelik dat dit net ’n infeksie is en dat virusse meer aggressief groei wanneer jy so hoog in die lug is.

Hulle het room gekry om aan te smeer en het weer verder gevlieg.

Toe hulle in Australië geland het, is hulle onder kwarentyn geplaas.

Daar is Nathan deur ’n Suid-Afrikaanse dokter ondersoek.

“Ek was op daardie oomblik baie bly om Afrikaans te kon praat. Wanneer jy so paniekerig is, wil jy nie nog wonder wat om in Engels te sê nie. Eers nadat Nathan weer kon praat, het hy vir my gesê dat hy in ’n spyker getrap het.

“Ek het soos ’n slegte ma gevoel.

“Na baie bloedtoetse is hy met osteomiëlitis in die febula gediagnoseer.

“Hy het ook ’n strapvirus gehad wat antibiotika-weerstandig was.”

Vandaar is Nathan in The Mater Kinderhospitaal opgeneem.

Hy was ten minste vyf keer teater toe waar hulle die febula moes skraap.

Sy febula was later só dun dat dokters gesê het dit sal nooit aangroei nie.

“Terwyl hy in die hospitaal was, het Nathan reeds ’n infeksielyn gehad wat by die dag hoër na sy knie gekruip het. Die dokter het elke dag met besoek ’n lyn met ’n swart pen getrek tot waar die infeksie gestyg het. Hulle het vir ons gesê dat as die infeksie tot by sy knie gaan, hulle sy been sou moes amputeer.”

Nathan se ouers het familie in Suid-Afrika geskakel en die situasie verduidelik.

Daar is ’n gebedsketting gevorm en dié span het deur die nag gebid.

“Ons het Nathan se been gesond gebid.

“God het my kind se been gered en ons is Hom ewig dankbaar. Ek onthou nog dat Nathan met een van die vele operasies op pad was teater toe. Ek het baie gehuil en hy het net gesê: ‘Toemaar mamma, Jesus kyk nog heeltyd baie mooi na my. Hy sal ook nou weer vir my sorg’.

“Sy geloof is vandag steeds baie sterk.

“Hulle het met elke operasie op dieselfde plek gesny en die vel het later ’n verdukking gevorm.”

Omdat hy met sy diagnose in Australië aangekom het en dit nie in Australië gebeur het nie, moes hulle self die hospitaalrekeninge betaal.

Die gesin het na Suid-Afrika teruggekeer omdat hulle meer as R250 000 moes opdok.

Die Suid-Afrikaanse Klub van Australië het van hul geval gehoor en gesê dat hulle wou help.

Dié klub het R200 000 aan die hospitaal oorbetaal.

Die Philpott-gesin het ook geld oorbetaal, maar die hospitaal het later die res afgeskryf.

“Ons sou dit nooit sonder die hulp van die klub kon afbetaal nie. Ons sal graag later weer wil probeer om te emigreer. Nathan geniet die plaaslewe en al kan hy nie aan sport deelneem nie, keer dit hom nie om sy lewe te geniet nie.”

Hy het een keer rugby probeer speel, maar sy spanmaats het gesê dat hy te stadig hardloop.

Sy been pyn nou nog, veral wanneer dit baie koud is.

Nathan leef egter ’n normale lewe hoewel hy soms effe mank loop.

Die gesin is dankbaar vir die bekwame sorg en diens wat hulle in Australië ontvang het.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button