Secunda-inwoner benodig geld om naelbreukoperasie te ondergaan
As hy sy mediese fonds voor einde Desember betaal, kan hy in Januarie geopereer word.
Mnr. Louis Willemse (53) kan nie meer werk nie omdat hy al twee onsuksesvolle naelbreukoperasies ondergaan het.
“Ek sukkel al 20 jaar met die naelbreuk en het in 2004 by ’n eierplaas gewerk en moes gereeld swaar goed optel.
“Ek dink dit is waar die probleme begin het,” het hy gesê.
Mnr. Willemse het in 2012 vir die eerste keer vir ’n operasie vir die naelbreuk gegaan, maar moes na ’n staatshospitaal gaan omdat hy nie ’n mediese fonds gehad het nie.
“Hulle het nie vir my ’n band vir die breuk gegee om na die operasie te dra nie en ’n jaar na die operasie het die breuk weer ontwikkel.”
Mnr. Willemse het weer ’n operasie ondergaan om die breuk reg te maak, weer by ’n staatshospitaal.
“Ek het dadelik na die operasie knoppe op my buik gevoel en vir die dokter gesê ek dink die breuk is steeds daar, maar hy het gesê die knoppe was weens die operasie.”
Mnr. Willemse het egter weer twee breuke ontwikkel en sukkel nou al vyf jaar daarmee.
Hy het nou ’n mediese fonds, maar het intussen opgehou werk omdat dokters hom medies ongeskik verklaar het weens die breuke.
Die eerste drie maande nadat hy opgehou werk het, het hy sy werkloosheidsversekering gebruik om vir sy mediese fonds te betaal, maar dié geld is nou op en hy is tans drie maande agterstallig met sy mediese fonds.
Sy mediese fonds kos maandeliks R2 900.
As hy sy mediese fonds voor einde Desember kan betaal, kan hy in Januarie vir ’n operasie gaan om die twee naelbreuke te herstel.
“Mense dink ek is te lui om te werk, maar ek wil weer werk soek sodra ek die operasies gehad het.
“Dit is tans só seer dat ek soms skaars kan loop,” het mnr. Willemse gesê.
Hy woon tans by sy suster op Secunda omdat hy geen ander heenkome het nie.
“Ek is dankbaar vir my suster, anders het ek dalk nou op straat gesit.”
As jy mnr. Willemse wil help, skakel hom by 071 579 3711.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



