Kroegman moet kan luister ook
Sy loopbaan het in Potchefstroom begin nadat ’n vriend hom uitgedaag het om te kyk of hy die werk van ’n kroegman sal kan doen.

Om glase blink te vryf en drankies te skink is vir seker nie die somtotaal van ’n kroegman se werk nie.
Ná ’n kuier by mnr. Wynand Broodryk, eienaar en ook kroegman by The Flying Pub sowat ’n km buite die dorp op die vliegveld se perseel, lyk die prentjie anders.
Wynand se dag begin al vroeg wanneer hy voorraad nagaan en gaan aankoop, indien nodig.
Hy bied ook funksies aan en dit behels weer administrasie van ’n ander aard.
Hy is omstreeks 11vm gereed om sy eerste klante te begin ontvang.
Hy hou sy kroeg dan tot middernag oop en nadat alles opgeruim is, kan hy eers begin dink aan huiswaarts keer.
Wynand probeer die atmosfeer in die kroeg so gemoedelik as moontlik hou en knoop geselsies met elke klant aan.
“Soms kom mense net ’n drankie drink en soms soek hulle iemand om mee te gesels as die lewe druk,” het Wynand gesê.
“My vrou verstaan my nie en sy verstaan ook nie dat mens nie altyd in ’n kroeg die horlosie dophou en dat die tyd vinnig verbygaan as jy lekker kuier nie,” moet hy menigmaal aanhoor.
Wynand het gereelde klante wat daagliks getrou hul paar drankies kom drink en ander wat net inval as hulle geselskap soek.
Volgens hom moet ’n kroegman ’n huweliksberader, sielkundige, grapjas, vriend en vertroueling wees.
Sy loopbaan het in Potchefstroom begin nadat ’n vriend hom uitgedaag het om te kyk of hy die werk van ’n kroegman sal kan doen.
Hy het dit geniet en besluit om homself in die fynere kunsies te bekwaam.
Daarna het hy vanaf 2006 tot Januarie 2016 by die Western Hotel in Dubai as kroegman gewerk.
Hy het in sy vrye tyd baie gereis en ’n groot deel van Europa gesien.
Hy het so ’n paar maande gelede The Flying Pub se bestuur oorgeneem en geniet sover nog elke oomblik.
“Jy kry die vroue wat op die toonbank dans en mense wat onverantwoordelik optree as die drankies begin inskop, maar dit is wanneer jy maar net ferm moet optree en orde handhaaf.”
Hy het ook gesê dat dit selde, indien ooit, gebeur dat ’n klant hom- of haarself te buite gaan en dat ’n gesellige atmosfeer merendeels in die kroeg heers.
Vlieëniers wat invlieg en ’n vinnige koeldrankie drink voor hulle verder vlieg is ook interessante geselskap en hy het tydens dié geselsies baie van vliegtuie en die kuns om te vlieg geleer.
“Dis lekker om hier te kuier want dit is uit die dorpsgeraas en by die vliegveld is dit wyd en oop,” het ’n gereelde klant gesê.
“n Mens kan rustig gesels sonder om op mekaar te hoef skree.”
“My doel is om ’n huis weg van die huis af te skep,” het Wynand mee afgesluit.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



