Relay for Life – Een persoon kan ‘n verskil maak
Die aflos bied die geleentheid om kankeroorlewendes te vier, om diegene wat die stryd verloor het te onthou, en mense meer bewus te maak van kanker en die stryd daarteen.

Dis byna weer tyd vir die jaarlikse “Relay For Life” wat op 9 Februarie om 6nm by Ligbron Akademie vir Tegnologie sal plaasvind.
Dié inisiatief is reeds in 1985 deur dr. Gordy Klatt van Amerika begin wat van mening was dat een persoon wel ’n verskil kan maak aan die eindelose pyn en verlies van kanker.
Dr. Klatt het besluit om om geld in te samel vir diegene wat veg teen kanker en het ’n uitmergelende 24 uur om ‘n baan gehardloop om slegs in ’n geringe mate die pyn uit te beeld wat kankerpasiënte deurgaan.
Hy het ’n totaal van $27 000 ingesamel.
Lees ook: Cansa oRelay for Life-Ermelo
Terwyl hy die baan gesirkel het, het hy gedink aan hoe ander kon deelneem en het ’n 24-uur aflos beplan wat geld sou inwin.
Dr. Klatt se passie was aansteeklik en die volgende jaar het hy vriende, familie en medewerkers ingespan en “Relay For Life” het ontstaan.
“Relay For Life” is ’n unieke gebeurtenis wat almal in die gemeenskap die geleentheid bied om ondersteuning te gee aan sowel diegene wat reeds die stryd verloor het, asook dié mense wat daagliks nog veg.
Die geleentheid is vir oud en jonk.
Spanne samel geld in voor en gedurende die geleentheid en die geld word vir CANSA-dienste in die gemeenskap gebruik.
Die spanne bestaan uit 10 tot 15 lede wat beurte maak om te loop of te hardloop om ’n atletiekbaan vir 12 tot 24 uur met die doel om te alle tye ten minste een van die spanlede aktief op die baan te hê.
Die aflos bied die geleentheid om kankeroorlewendes te vier, om diegene wat die stryd verloor het te onthou, en mense meer bewus te maak van kanker en die stryd daarteen.



