Passie vir Ermelo-omgewing lei na suksesvolle besigheid
“Die negatiewe impak wat besoedeling onder meer veroorsaak is aardverwarming, uitsterf van seldsame diersoorte, onbruikbaarheid van waterbronne en grond, verspreiding van siektes en plaaslike stortingsterreine wat oorvol is.
Me. Penny Coetzer het in 2008 die geleentheid aangegryp om ’n verskil in die Ermelo-omgewing te maak.
Sy het ’n herwinningsonderneming begin nadat sy na 23 jaar se diens by die bank afgetree het.
Dié besluit het gespruit uit ’n besoek na Europa waar sy gesien het hoe omgewingsbewus die mense is en elkeen na hul omgewing omsien.
Me. Coetzer se onderneming is vanjaar 10 jaar oud en sy probeer steeds om daagliks ’n verskil te maak.
“Ek geniet dit en mense besef nie die verskil wat herwinning werklik kan maak nie.
“Ek lewer 78-ton kartondose, 15-ton plastieksakke, 30-ton glasbottels en 10-ton plastiese bottels maandeliks aan instansies soos Mpact, Nampak en Consol en verskeie ander plastiese maatskappye wat al dié goedere weer na bruikbare items verwerk.”
Volgens haar verskaf die onderneming ook werk aan 38 mense en lewer ’n gratis diens aan ondernemings op Ermelo.
Me. Coetzer het aangedui dat die gemeenskap nie besef dat 80% van huishoudelike vullis herwin en verwerk kan word tot bruikbare items nie.
Sy het ’n jaar gelede van straat tot straat gery en gratis vullissakke aan inwoners voorsien vir herwinbare goedere wat sy dan ’n dag voordat die munisipaliteit die vullis verwyder het, opgetel het.
Volgens haar, was dié projek egter nie lewensvatbaar nie.
“Slegs sowat 50 gesinne op Ermelo het hul goedere herwin.”
Daardie gesinne herwin steeds hul goedere hoewel me. Coetzer die projek gestaak het en neem dit na verskeie kerke waar sy dit optel.
Me. Coetzer gee jaarliks donasies vir dié kerke om weer aan die gemeenskap terug te gee.
Om weer die projek te oorweeg, het me. Coetzer ten minste 10 gesinne in ’n straat nodig wat bereid is om te herwin.
“Herwinning het geen einde nie want daar sal altyd goedere wees.
“Die negatiewe impak wat besoedeling onder meer veroorsaak is aardverwarming, uitsterf van seldsame diersoorte, onbruikbaarheid van waterbronne en grond, verspreiding van siektes en plaaslike stortingsterreine wat oorvol is.
Items wat herwin kan word sluit in alle plastiekhouers, koeldrank- en kosblikkies, kartonbokse, tydskrifte, koerante en kantoorpapier.
Me. Coetzer se sukses word toegeskryf aan haar passie vir die omgewing en dat sy haar oorhoofse kostes so laag as moontlik probeer hou.
“Sonder my man se vervoeronderneming sou ek die aanleg nooit kon begin het nie omdat dit nie koste-effektief sou gewees het nie.”
Me. Coetzer het afgesluit met interessante feite oor herwinning.
* Die proses om papier te herverwerk in plaas daarvan om nuwe papier te vervaardig, genereer 74 persent minder lugbesoedeling en gebruik 50 persent minder water.
* Dit neem ’n glasbottel bykans 1 miljoen jaar om op ’n vullisterrein te vergaan.
* Om slegs een aluminiumblikkie te herwin, word genoeg energie gespaar om ’n televisie vir drie ure te laat speel.
* Dit neem bykans 20 bome om een baba vir twee jaar in weggooidoeke te hê.
Me. Coetzer het elkeen aangemoedig om hul deel te doen en huishoudelike goedere te herwin.
“Saam kan ons ’n verskil maak.”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter



