Kommandant Lappies Labuschagne sterf aan hartaanval
Mnr. Hendrik (Lappies) Labuschagne is Sondag, 11 Februarie in Pretoria aan ’n hartaanval dood.
Mnr. Hendrik (Lappies) Labuschagne is Sondag, 11 Februarie in Pretoria aan ’n hartaanval dood.
Hy was die bevelvoerder van Bethal Kommando en die gemeenskap sal hom onthou as Kommandant Labuschagne.
Hy het in 1989 vanaf Bethal na Pretoria verhuis.
Mnr. Labuschagne het ook tydens sy betrokkenheid by Bethal Kommando gehelp met gebiedsbeskerming in die sewentigerjare en die boere van die gebied het sy vermoë om veiligheidsplanne te maak en uit te voer, hoog geag.
Hy het ook grensdiens gedoen en is beloon met die Pro Patria- en De Wet-dekorasies.
Hy is in 1980 as Bethal Kommando se bevelvoerder aangestel en het vir vyf jaar dié skoene volgestaan.
Mnr. Labuschagne, ook bekend as Bokbaard Lappies, het by OTK op Bethal se handelstak begin werk en homself tot rekenmeester opgewerk.
Hy het vir bykans 30 jaar daar gewerk en was vir die laaste paar jaar in beheer van kodes en poskarre.
Mnr. Labuschagne word oorleef deur sy vrou, drie seuns, skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders.
Sy roudiens is Donderdag, 15 Februarie vanuit die Twee Riviere Aftree-oord gehou.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



