Local newsNews

Dries bring Towerfluit na Ermelo

Mnr. van Rensburg het besluit dat Towerfluit op Ermelo opgevoer moet word en om dit by EHS aan te bied, bloot omdat hulle ouditorium opknappingswerk nodig het.

Mnr. Dries van Rensburg se passie vir die lewe is aansteeklik en mense sê dat hulle, ná ’n gesprek met hom, sommer weer kans sien vir baie dinge.

Hy is egter huiwerig om oor homself te praat en gesels baie eerder oor die dinge wat hom na aan die hart lê.

Sportsielkunde is een van sy groot liefdes en hy werk graag met kinders en help met afrigting waar sy hulp benodig word.

Hy probeer altyd die boodskap by kinders tuisbring dat jy deur harde werk enige doelwit in die lewe kan bereik.

“Die lewe is soos ’n toneelstuk.

Lees ook:  Pastoor met ’n hart vir ons gemeenskap

“Dit begin ietwat deurmekaar maar as jy fokus, val die storie en karakters in plek en begin jy verstaan en kan dit volg tot die storie sy hoogtepunt bereik het,” het mnr. van Rensburg gesê.

Dries vergelyk ’n kind met ’n rekenaar.

Jy koop die basiese rekenaar en is dan net beperk tot sekere funksies en soos jy meer dinge op die rekenaar wil doen, moet jy programme bykoop en aflaai.

Net soos die rekenaar uitbrei, groei en ontwikkel die kind as hy gestimuleer word.

Mnr. van Rensburg reis ook graag en op een van sy reise het hy in Wene se operahuis na Mozart se Towerfluit gaan luister.

Hy het die vertoning baie geniet en groot was sy verbasing toe hy een aand by een van die oudste restaurante in Europa gaan eet het en die geselskap kom voer Towerfluit in die restaurant op.

Volgens hom was dit een van die top vyf groot oomblikke in sy lewe en hy was heeltemal begeesterd.

Een van sy werknemers se dogters, Francis du Plessis, is volgens hom ’n talentvolle operasanger en het verlede jaar in Amerika en Duitsland gesing.

Toe hy hoor die Towerfluit word by ’n Duitse skool in Johannesburg opgevoer, het hy dadelik plek bespreek

Mimi Coetzer, ’n Suid-Afrikaanse operasanger, wat jare lank in Wene gebly en gesing het, het links voor hom gesit.

Sy is persoonlik deur die organiseerders verwelkom.

Mnr. van Rensburg het besluit dat Towerfluit op Ermelo opgevoer moet word en om dit by EHS aan te bied, bloot omdat hulle ouditorium opknappingswerk nodig het.

Hy het die bal aan die rol gesit en na baie gunsies uitdeel en toutjies trek, kan Ermeloërs op 10 en 11 Mei na Mozart se Towerfluit in die ouditorium gaan kyk.

Hy het voorgestel dat ouers hul kinders saamneem omdat kinders op die platteland nie gereeld blootstelling aan sulke vertonings kry nie en omdat daar altyd ruimte is om hul horisonne te verbreed.

Hy het vir Pretty Yende van Piet Retief as ’n voorbeeld gebruik as ’n kind wat haar droom nagejaag het en al internasionaal opera gesing het.

Plaaslike talent, balletdansers en ekstras van Ermelo sal in die vertoning optree.

Mnr. van Rensburg ontlaai graag in die woestyn en wanneer die geleentheid hom voordoen, vat hy die pad Namib-woestyn toe.

“Ek skakel heeltemal af en my siel verwyder homself heeltemal van my liggaam in dié tyd,” het hy gesê.

Hou die Hoëvelder dop vir meer inligting oor die Towerfluit.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button