Dewald Mareé op pad na herstel
Dewald Mareé (4) se dokter is baie tevrede na afloop van die operasie om hom die kans te gee om te kan loop.

Dewald Maree (4) het op 20 Februarie in Bloemfontein ’n operasie ondergaan om sy voete te herstel om kan leer loop nadat hy vroeggebore is met ’n hobbel op sy rug en water op die brein.
Die hobbel is in April 2013, toe hy slegs ’n maand oud was, deur middel van ’n operasie verwyder.
Drie maande daarna het die ouerpaar, me. Veronica Smit en mnr. Andrew Mareé, opgemerk dat Dewald se voete na mekaar trek en hy kon glad nie op sy voete staan of ooit leer loop nie.
Hulle het van ’n dokter in Bloemfontein gehoor wat Dewald kon help en hom daarheen geneem en die operasie is op 19 Februarie by die Universitas Hopitaal uitgevoer.
Lees ook: Dewald benodig hulp om te kan loop
Volgens dr. Kobus Smit, het die operasie baie goed verloop en is hy tevrede met die resultate.
Dewald was kort nadat hy ontwaak het, sy vrolike self.
“Hy het net die hele tyd gesê dat hy nie kan wag om te loop en saam met sy broer te speel nie,” het me. Smit gesê.
Dewald moet vir nou so rustig as moontlik wees en kan geen gewig op sy voete plaas nie om volkome herstel aan te help.
Hy sal oor twee weke weer die dokter sien om die gips te verwyder waarna die ouers sal uitvind wat die pad na herstel vir hulle inhou.
“Tydens die operasie wat twee ure geduur het, was ons baie op ons senuwees en kon nie wag dat die hospitaalpersoneel hom uitstoot nie.
“Tererselfdertyd was ons ook opgewonde oor ons jongste seun se herstel.
“ Ons sal enige iets vir ons kinders doen, hulle is op die ou einde die belangrikste.”
Die ouerpaar het die volgende mense bedank wat dit moontlik gemaak het om Dewald in Bloemfontein te kry, Deon en sy vrou, Zelda; mnr. Wouter du Preez en sy vrou, Celeste; me. Elize Lombaard en haar man, Steve; mnr. Sias Burger sy vrou, Elma en mnr. Tiaan Burger.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



