Secunda-aptekers, Chris en Riekie, tree na 40 jaar af
Hulle wil nou meer tyd op wildsplaas bestee, maar steeds konstruktief wees.
SECUNDA – Mnr. Chris en me. Riekie van Schalkwyk het na 44 jaar in die aptekerswese, waarvan 40 jaar op Secunda was, afgetree.
Hulle het op 28 November 1978 Transvalia Apteek op Secunda oopgemaak.
Die egpaar het in 1980 Trichardt Apteek saam met mnr. Kobus Engelbrecht oopgemaak en in die vroeë 80s Medico Medisyne Depot Apteek.
Hulle het ook die Transvalia Primêre Gesondheidskliniek bo Transvalia Apteek tot stand gebring.
Weens me. Van Schalkwyk se belangstelling in aanvullende en natuurlike medisyne, het hulle ook die gesondheidswinkel in die Pick n Pay Mall geopen.
Mnr. Van Schalkwyk het ‘n onderneming wat toerusting uitverhuur, saam met sy seun in April 2004 op Secunda oopgemaak.
Een van mnr. Van Schalkwyk se stokperdjies is fotografie en hy het in 1985 ‘n foto-onderneming op Secunda oopgemaak, maar hulle het dit later weer toegemaak omdat hulle nie chemikalieë om die foto’s te ontwikkel, kon bekom nie weens die handelsboikotte.
Toe die ontwikkeling en beplanning vir die Secunda Mall in 2011 begin het, het mnr. Van Schalkwyk besef hy kon nie die geleentheid om ‘n apteek daar oop te maak, laat verbygaan nie.
Hy het aansoek gedoen om Transvalia Apteek daarheen te skuif, en dit is toegestaan.
Dis-Chem het mnr. Van Schalkwyk egter genader en gevra of hy nie ‘n Dis-Chem-apteek op Secunda wou oopmaak nie.
Dis-Chem Apteek het sy deure op 3 Desember 2013 in die Secunda Mall oopgemaak en me. Van Schalkwyk se gesondheidswinkel het ‘n afdeling in Dis-Chem geword.
Mnr. Van Schalkwyk het Transvalia Apteek in 2014 aan die Pure Pharmacy-groep verkoop.
Mnr. Van Schalkwyk was die afgelope 40 jaar by verskeie klubs en organisasies betrokke wat die fotografieklub, die Tafelronde, die skietklub en die sterrekunde-klub insluit.
Hy was ook vir baie jare die voorsitter van die Oos Transvaalse Aptekersvereniging.
“‘n Wonderlike hoofstuk van ons lewens is nou afgesluit en dit was ‘n voorreg om die gemeenskap te kon dien,” het mnr. Van Schalkwyk gesê.
“Dit is nou ‘n uitdaging oor hoe ‘n mens jouself voortaan konstruktief gaan aanwend.”
Die egpaar het aandele in ‘n wildsplaas in Noord KwaZulu-Natal en beplan om meer tyd daar te bestee.
Hulle geniet dit ook om te stap en na voëls te kyk en mnr. Van Schalkwyk wil nou meer tyd aan sy fotografie bestee.
In sy vrye tyd, doen mnr. Van Schalkwyk navorsing oor sy familiestamboom.
Hy het dit al tot 29 geslagte teruggevoer.
Die Van Schalkwyks het drie kinders, mnr. Johann van Schalkwyk, dr. Dieter van Schalkwyk en me. Erika van Schalkwyk, en drie kleinkinders, Megan, Crhis en Yva, waarmee hulle ook graag meer tyd wil bestee.



