Secunda-manne leer meer oor kanker tydens ontbyt
Dr. Van Schalkwyk het gesê prostaatkanker is die mees algemene kanker onder mans en een uit elke ses word met prostaatkanker gediagnoseer.
SECUNDA – Mnr. Dieter Uken, plaaslike kunstenaar, wat al drie keer met kanker gediagnoseer is, se wens was nog altyd om ‘n ontbyt vir mans aan te bied en hulle bewus te maak van die gevare van kanker.
Dr. Dieter van Schalkwyk het die mans toegespreek by ‘n manne-ontbyt wat Woensdag, 28 Februarie by Lake Umuzi aangebied is.
Dr. Van Schalkwyk het gesê prostaatkanker is die mees algemene kanker onder mans en een uit elke ses word met prostaatkanker gediagnoseer.
“Hoe ouer ‘n mens word, hoe hoër word die risiko vir prostaatkanker,” het dr. Van Schalkwyk gesê.
“Prostaatkanker het geen simptome nie.
“Daar is ‘n PSA-toets wat ‘n mens kan doen om dit te diagnoseer en dié toets kan die kanker 10 jaar voor die tyd optel.
“‘n Fisiese ondersoek is egter ook belangrik en mans behoort op die ouderdom van 45 te begin met ondersoeke en toetse.
“Die enigste manier om testikelkanker op te tel, is deur ‘n selfondersoek.

“As die grootte van die testis verander, gaan dan dokter toe sodat hy met ‘n sonar kan kyk.”
Mnr. Uken het die mans meer van sy pad met kanker vertel en gesê die grootste deel van sy kolon is verwyder.
“Kolonkanker is stil en tekens is moeilik om te ontdek totdat dit te laat is,” het mnr. Uken gesê.
Kolonkanker is deur middel van ‘n kolonoskopie by hom gediagnoseer en hy reken sy kanker kon verhoed gewees het as hy vroeër vir ‘n kolonoskopie gegaan het.

“‘n Kolonoskopie is vinnig en kan jare by jou lewe voeg. Vra jou huisdokter om jou te verwys vir ‘n kolonoskopie want vroeë diagnosering is baie belangrik.”
Hy het almal bedank wat die ontbyt gereël het en gesê hulle wil dit ‘n instelling maak.
Die organiseerders het vir elke man ‘n blou strik vir bewusmaking uitgedeel en die ATKV het boeke geborg wat as pryse uitgedeel is.



