Danie Theron op sy plaas Klipkraal begrawe
“Hy kon besigheid met ’n handskud doen en het altyd sy woord gehou.”
TRICHARDT – Mnr. Danie Theron (71), die boer wat Dinsdag, 6 Maart in ’n dam op sy plaas Klipkraal verdrink het, is Saterdag, 10 Maart op die plaas begrawe.
Mnr. Theron het die dag van sy dood vir sy familie gesê hy gaan ’n pomp op die plaas regmaak.
Toe hy etlike ure later nog nie teruggekeer het nie, het hulle hom geskakel en na hom gaan soek toe hy nie sy selfoon geantwoord het nie.
Sy seun en die plaasbestuurder het sy liggaam in die dam gekry.
Mnr. Theron was bekend in die omgewing en het vir langer as 50 jaar op die plaas gebly.
Volgens sy skoonseun, mnr. Ryno Beukes, sal die familie mnr. Theron onthou as ’n toegewyde boer, ’n eerbare mens en iemand met ’n besonderse sin vir humor.
“Hy kon besigheid met ’n handskud doen en het altyd sy woord gehou,” het mnr. Beukes gesê.
“Hy het deur die jare baie mense in nood gehelp en wou altyd anoniem bly.
“Hy het altyd sy plaaswerkers regverdig behandel en uitstekende werksverhoudings met al sy mense gehandhaaf.”
Mnr. Theron se roudiens het Saterdag vanuit die N.G. Kerk se Moedergemeente op Bethal plaasgevind.
Hy word oorleef deur sy vrou, me. Delien Theron, vyf kinders en agt kleinkinders.
Lees ook: [OPVOLG] Bekende boer verdrink op plaas tussen Trichardt en Kriel



