SECUNDA – Die N.G. Rondekerk het op 6 Maart ’n ontbyt vir sleutelfigure in die gemeenskap gehou wat die polisie, skoolhoofde, nooddienste en hospitaalpersoneel ingesluit het.
Die doel van die ontbyt en netwerksessie was om dié mense te bedien en te bedank.
Ds. Henry Stopforth, leraar van die Rondekerk, het gesê: “Die mense wat ons hiér bedien, is die mense saam met wie ons ’n pad stap. Dit is vir ons belangrik om saam met julle die ‘pause’-knoppie te druk, rustig te raak en vir julle te bid vir waarmee julle besig is.
“Ons wil hê julle moet weet ons is hier en wil julle hande neem en saam met julle die pad stap.”
Ds. Stopforth het gesê dit is vir die kerk belangrik om te weet wat in die skole, hospitale en by die polisie gebeur.
“Ons wil weet wat is die mooi dinge en wat in ons gemeenskap gebeur. Ek hoop ons eindig op ons knieë en dat ons vir mekaar kan bid.”



