Ds Casper en me. Elna Breed verruil Secunda na 32 jaar vir Pretoria
Huidige Lillian Ngoyi Sentrum is destyds na ds. Casper Breed vernoem.
SECUNDA – Ds. Casper Breed, na wie die Casper Breed Sentrum (nou die Lillian Ngoyi Sentrum) vernoem is, en oudburgemeester van Secunda, het vanjaar Secunda vir Pretoria verruil.
Mnr. en me. Elna Breed het vir 32 jaar op Secunda gewoon en wil tydens hul aftrede fokus op die dinge waarvoor hulle nie altyd kans gekry het nie.
“Ons wil ons mooi land en buurlande behoorlik verken en in die winter sommer vir ’n paar maande in die Kruger Nasionale Wildtuin gaan kamp,” het me. Breed gesê.
Ds. Breed wil meer skryfwerk doen en me. Breed wil meer tyd aan haar stokperdjie, fotografie, bestee.
Die egpaar het in 1986 vanaf Kameeldrift buite Pretoria na Secunda verhuis.
Me. Breed het gesê: “Dit was nie maklik om die boomryke, warm wêreld van Kameeldrift vir die koue vlaktes van Secunda te verruil nie, maar ons het spoedig aangepas en wonderlike en geseënde jare op Secunda gehad.”
Me. Breed het na hul vier kinders omgesien, maar later by verskeie skole op Secunda gewerk as onderwyser en het vir jare tot in 2011 voltyds by Hoërskool Oosterland gewerk.
Ds. Breed was van sy eerste dag af op Secunda by die gemeenskap betrokke en het op Laerskool Secunda en Hoërskool Secunda se beheerliggame gedien, onder andere as voorsitter.
Hy is in 1988 as burgemeester verkies vir die eerste ten volle verkose stadsraad op Secunda.
Hy het vir vier termyne agtereenvolgend as burgemeester gedien en was vir vyf jaar die ondervoorsitter van die destydse Oosvaal Streeksdiensteraad.
Volgens me. Breed het die destydse stadsraad, in teenstelling met die huidige uitgebreide munisipaliteit, net uit nege verkose lede bestaan wat nie groot salarisse verdien het nie.
“Dit was ’n liefdesdiens wat groot opoffering en harde werk geverg het, soms tot baie laat in die aande.”
Die destydse stadsraad het geld gespaar om die Casper Breed Sentrum te bou.
Ds. Breed het altesaam 16 jaar op die stadsraad gedien en het gesê hy neem mooi herinneringe van Secunda saam met hom.



