Brandweer sal nou AfriForum se verf benut
Beter sigbaarheid van brandkrane in ons dorpe kan die verskil tussen lewe en dood beteken,” het mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga, gesê.
SECUNDA – Die plaaslike brandweer gaan nou die verf wat AfriForum Secunda-tak vir ’n straatnaamprojek bedoel het, benut.
AfriForum het besluit om die verf aan die brandweer te skenk ná die Govan Mbeki Munisipaliteit die organisasie se voorstel om straatname op te knap, van die hand gewys het.
Mnr. Nico Venter, voorsitter van die AfriForum Secunda-tak, en sy lede het reeds op 19 Januarie met die munisipaliteit vergader met die voorstel dat die organisasie die dorp se straatname sal oorverf.
“Dié aksie is opgevolg met skrywes aan die munisipaliteit om die nodige goedkeuring te verkry, terwyl die hoof van die plaaslike verkeersdepartement sowel telefonies as per e-pos gekontak is. E-posse is ook na verskeie munisipale amptenare gestuur in ’n poging om goedkeuring te verkry.”
Taklede het intussen besluit om met die aankoop van verf en stensils voort te gaan om die straatname te verf. Hulle is egter op 20 Februarie per e-pos verwittig dat die munisipaliteit nog van plan is om te reageer op skrywes deur onder meer bestuurslede van paaie en stormwater, asook die hoof van die verkeersdepartement.
Dié departemente het aangevoer dat die infrastruktuur die eiendom van die munisipaliteit is en dat hulle daarom moet seker maak dat die regte straatname soos per die geografiese naamsveranderingspesifikasies aangedui word.
Volgens mnr. Venter het hy daarna met die verkeershoof in verbinding getree waartydens hy meegedeel is dat die munisipaliteit reeds met die verf van straatname begin het en dat AfriForum in ’n latere stadium gekontak sal word vir ’n vergadering in dié verband.
In ’n opvolgoproep het die verkeershoof laat blyk dat die munisipaliteit alleen die verfwerk sal behartig.
“Dit is betreurenswaardig dat AfriForum se hulp van die hand gewys word, gesien in die lig van die Govan Mbeki Munisipaliteit se finansiële verknorsing. Die gemeenskap was bereid om die taak aan te pak en dit vinnig en suksesvol af te handel,” het mnr. Venter in ’n persverklaring gesê.
Die tak het toe besluit om die kanne verf wat reeds vir die straatnaamprojek aangekoop was, by die verskaffer vir rooi verf, kwaste en ander toerusting wat die brandweerstasie kan gebruik, te ruil.
Die brandweer sal dit in die toekoms kan gebruik om die dorp se brandkrane te verf en sigbaarheid daarvan bevorder. Dít vorm deel van AfriForum se 2018-brandkraanprojek.
“Daar is talle dorpe waar die brandkrane moeilik sigbaar is en dit bemoeilik die brandweer se taak. Beter sigbaarheid van brandkrane in ons dorpe kan die verskil tussen lewe en dood beteken,” het mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga, gesê.
Die plaaslike AfriForum-tak beplan om soortgelyke selfdoenaksies op Secunda aan te pak en doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak.
SMS die woord “Verf” na 45350. ’n SMS kos R1.



