Herderspaar tree af en verhuis na die Kaap
Ds. Francois dink Secunda het ’n wonderlike gemeenskap en gaan die mense baie mis.
SECUNDA – Ds. Francois en me. Ann Human tree na 11 jaar by die N.G. Rondekerk-gemeente af.
Hulle verhuis in Mei na die Kaap waar ds. Human grootgeword het.
Hy het na sy studies aan Tukkies en Pukke waar hy onderskeidelik teologie en vir sy pastorale graad in sielkunde studeer het, eers in die Kaap en in Vereeniging as predikant gewerk.
Hy het toe besluit om ’n tentmaker eraar te word en by die Rondekerk begin werk.
Ds. Human het voltyds by ’n ingenieursfirma op Secunda gewerk en dié maatskappy se agtste tak oopgemaak en op die been gebring.
Hy sou eers net drie maande vir dié maatskappy gewerk het, maar hulle het sy kontrak met nog drie maande verleng en later gevra of hy nie permanent wou aanbly nie.
Me. Human was op daardie stadium in Engeland waar sy vir agt maande as verpleegster gewerk het.
Met haar terugkeer was ds. Human reeds by die Rondekerk ingeskakel en me. Human het as kantoorbestuurder by die kerk begin werk.
Ds. Human het die werk by die ingenieursfirma en by die kerk geniet en het gesê hy het vanuit ’n besigheids- en ekonomiese perspektief en nie vanuit ’n ingenieursperspektief na die maatskappy gekyk.
Sy seun het ’n onderneming in die Kaap en hy en me. Human beplan om daar betrokke te raak.
“Ons het ons gelukkigste en mees geseënde jare op Secunda en in die Rondekerk gehad,” het ds. Human gesê.
“Ek dink Secunda het ’n wonderlike gemeenskap en ons het goeie vriende hier gemaak.”
Ds. Human het homself as ’n “mall-rot” beskryf en gesê hy gaan dit mis om in die mall rond te loop.
Hy doen graag kuns en sy vrou doen graag naaldwerk.
Die egpaar is lief vir sport en beplan om nou meer te stap en gholf te speel.
Die Rondekerk het in Februarie van ds. Human afskeid geneem en ’n spesiale geleentheid by die kerk aangebied.
“Hulle het al my oudkollegas saam met wie ek van my beginjare af gewerk het, opgespoor en video’s van hulle geneem wat hulle by my afskeidsdiens gespeel het.”
Ds. Human was by Sasol Hydra-Arc Rugbyklub betrokke en was op ’n stadium die president van dié klub.



