Local newsNews

Pa glo krag van gebed het sy baba genees

Haylie is ná geboorte na die neonatale waakeenheid van Mediclinic Hoëveld gehaas waar sy dadelik aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is.

SECUNDA – Dit was die krag van gebed wat hul kleinding genees het.

Só meen mnr. Christi en me. Erika Nel oor die vinnige herstel van hul laatlam, Haylie.

Dié pienkvoet is op 2 Maart per noodkeiser in die 36ste week van swangerskap gebore. Sy was baie siek weens ’n onbekende infeksie wat veral haar longetjies aangetas het.

“Buiten vir bloeding voor haar geboorte, was daar geen teken dat iets met Haylie fout was nie,” het me. Nel vertel.

Haylie is ná geboorte na die neonatale waakeenheid van Mediclinic Hoëveld gehaas waar sy dadelik aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is.

“Die pediater het verduidelik dat ons baba vir minstens vier weke só sou moes deurbring. Die infeksiekiem wat haar siek gemaak het, moes eers gekweek word voordat die dokter die regte antibiotika kon voorskryf,” het me. Nel gesê.

Haylie, wat net meer as 3kg geweeg het, het egter gewys sy is ’n vegtertjie, want sy is reeds op 14 Maart – haar pa se 41ste verjaardag – ontslaan.

“Sjoe, dit is seker die beste verjaardaggeskenk ooit!” het mnr. Nel opgewonde vertel.

“God is só goed vir ons. Ek weet Haylie het so vinnig herstel omdat soveel mense vir haar gebid het. Ek het ná haar geboorte vir past. Coetzer van Roepersfonteingemeente op Kriel laat weet wat gebeur het. Ek het op Kriel grootgeword en hoewel ons sowat drie jaar gelede na Secunda verhuis het, het ons nog baie nou bande met die kerk.

“Ek het geweet past. Coetzer bid elke dag om 2vm en het vir hom ’n boodskap gestuur wat hy dadelik beantwoord het. Hy het belowe om in gebed te tree. Haylie het die volgende dag reeds ’n verbetering getoon.”

’n Gebedsketting het op sosiale media begin en daar is ook in verskeie kerke vir die Nel-gesin gebid.

“Dankie aan almal wat vir ons gebid het. Dankie aan Jenny Softley van Kriel en haar gemeente en iedereen wat ons ondersteun het. Ons het groot geskrik, maar ons is baie dankbaar vir mense soos dr. Bahadur, dr. Adams en die personeel van Mediclinic Hoëveld. Die eenheidsbestuurder, sr. Retha Stander, en haar span was ongelooflik. Die span is susters Corné Zaaiman, Wilarie Brown en Spony Matenche, asook die verpleegsters Mpumi Makowane, Sphiwe Khambule, Tsholofelo Lesito en Mariska Beeslaar.”

Haylie se tuiskoms was ’n verrassing vir haar sussies, Jessica (7) en Megan (5), toe hulle haar vir die eerste keer ontmoet het.

Megan het saggies aan die slapende kleinding se handjie gevat en gefluister: “Sy is mooi.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button