BETHAL – Lisa, die Vermaak-gesin se bokser, het deur ’n gat in die hek gekruip toe sy jonk was en haar knie seergemaak.
Nou wil die gesin vir haar ’n spesiale stut laat maak omdat sy sukkel om te loop.
Volgens die veearts is Lisa se kruisligamente geskeur weens elke keer wat haar knie teen die hek geskuur of gestamp het wanneer sy daar in- of uitgegaan het.
Sy het in 2014 vir haar eerste knie-operasie gegaan en in 2015 vir haar tweede operasie waarna haar knie goed herstel het.
Lisa moes egter verlede jaar weer ’n operasie ondergaan, dié keer aan haar ander knie toe dié ook probleme begin gee het.
Sy is nou vier jaar oud en het reeds artritus en haar regterbeen wat in 2015 geopereer is, begin weer probleme gee.
Die enigste oplossings is ’n baie groot operasie of stutte.
Die Vermaak-gesin het op stutte besluit omdat hulle nie wil hê Lisa moet weer op só ’n jong ouderdom geopereer word nie.
Dr. Pieter Botha op Secunda het reeds vir Lisa ’n stut gemaak, maar me. Linette Vermaak het gesê die stut gly af en maak Lisa seer.
Hulle wil die stut terugneem na hom sodat dit verander kan word.
“Ons maak Lisa bedags in die huis toe sodat sy nie te veel buite rondhardloop en haar been nog verder beseer nie,” het me. Vermaak gesê.
Sy en haar dogter, me. Cecile Vermaak, het Lisa as ’n liefdevolle, spelerige en slim hond beskryf en het gesê sy het hulle gehelp toe hulle ’n babakatjie gehad het deur hom te lek soos die katjie se ma sou doen.
Hulle het Lisa eintlik vir mnr. Sam Vermaak vir sy verjaarsdag gekoop, maar sy het in die hele gesin se harte ingekruip.
Hulle het dit ook al oorweeg om vir Lisa ’n rolstoel te laat maak sodat sy makliker kan beweeg.
Me. Vermaak het gesê Lisa ondervind baie pyn met die been en hulle gee daagliks vir haar medikasie.





