Local newsNews

Sophia Grobbelaar van Secunda leef elke dag voluit

Me. Grobbelaar mik na haar 250ste Park Run en stap graag.

SECUNDA – Me. Sophia Grobbelaar (75) het in 2006 ’n dubbele mastektomie ondergaan nadat sy met borskanker gediagnoseer is.

Haar man, mnr. Arnold Grobbelaar, is in 2009 dood en haar dogter, me. Elize Abbott, in 2010.

Mnr. Grobbelaar het vyf weke voor sy dood ’n hartomleiding gehad en is aan ’n hartaanval dood.

Me. Abbott is ook aan ’n hartaanval dood.

Volgens haar was haar man en dogter fiks toe hulle hartaanvalle gekry het.

Me. Grobbelaar leef voluit, ten spyte van die emosionele pyn wat sy moes verwerk en sy stap drie keer ‘n week en mis nie maklik ’n Park Run nie.

Sy en haar dogter, me. Marlene Coertzen, was vanjaar vir die eerste keer in Israel en me. Grobbelaar het dit as ’n wonderlike en onvergeetlike belewenis beskryf.

Sy het haar doop in die Jordaanrivier herdenk en die son sien opkom oor die See van Galilea.

Me. Grobbelaar geniet dit om te reis en het al verskeie Europese lande, asook Thailand en Namibië besoek.

Een van die hoogtepunte van haar lewe was toe sy die Neijmegan Staptoer van 160km oor vier dae in Nederland gedoen het.

Sy het al talle plekke in Suid-Afrika ook besoek en al die groot staproetes destyds saam met haar man en kinders, aangedurf.

Sy het die Visrivier Canyon in Namibië ook al verskeie kere gestap.

Deesdae stap sy die Park Run elke Saterdag en twee keer weekliks saam met die Golden Oldies-groep van die N.G. Rondekerk.

Sy het al 128 Park Runs gestap en reeds haar toekenning vir haar 100ste Park Run verwerf en mik nou vir haar 250ste Park Run.

Me. Grobbelaar het al Park Runs in verskeie ander dorpe ook gestap en het gesê die een by die Voortrekker Monument was vir haar besonder omdat daar so baie mense deelgeneem het en die een in die Botaniese Tuine in Pretoria.

“Die Park Run op Standerton het onlangs begin en is die enigste Park Run in Suid-Afrika waar ’n mens in twee provinsies, Mpumalanga en die Vrystaat stap,” het me. Grobbelaar gesê.

Soms stap sy twee keer op ’n Saterdagoggend die Park Run van 5km.

Sy werk as vrywilliger elke Saterdag by Secunda Park Run en die vrywilligers kry om 6.30vm die geleentheid om te stap voordat die Park Run amptelik begin en soms stap sy om 8vm weer saam met die publiek.

Sy is by Kansa betrokke as vrywilliger en het by vanjaar se Cansa Relay for Life 20km gestap.

“Ek weet nie hoeveel keer was dit om die baan nie, maar dit was baie treë,” het me. Grobbelaar gesê.

Sy woon al 41 jaar op Secunda en het vir 38 jaar in die bank gewerk as skakelbordoperateur en ontvangsdame.

Me. Grobbelaar geniet dit om tuin te maak en bestee graag tyd met haar twee African Grey papegaaie, Rufus en George.

“Die lewe is ’n reis en ons is almal toeriste op pad na ons bestemmings.

“God is ons reisagent en Hy het reeds ons roetes, besprekings en aankoms bepaal.

“Geniet die reis, geniet die lewe en leef voluit, want die lewe het ’n vervaldatum,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button