Ian Wessels vertel vroue om hul breintuin mooi te maak
Geluk beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Kan jy opreg sê dat jy gelukkig is?
SECUNDA – Ian Wessels, omroeper by RSG, motiveringspreker en voormalige landdros, het vroue Saterdag, 24 Maart vertel hoe om hul breintuine te verfraai.
Hy was die gasspreker by Laerskool Secunda en Lynco se jaarlikse vroue-oggend wat Saterdag in die Graceland Arena deur honderde vroue bygewoon is.
Mnr. Wessels se pittige sêgoed het van sy tong afgerol en die vroue laat skaterlag, soos sy kompliment aan die vroue dat hulle “strelend op die retina” is.
Sy praatjie het gehandel oor wat mense toelaat om in hul gedagtes te groei – hul breintuine. Mnr. Wessels het verduidelik dat net soos ’n mens beplan, spit, plant en natlei om ’n mooi tuin voort te bring, net so moet jy werkskaf om jou breintuin in gereedheid te bring, die regte dinge te plant en die onkruid (slegte goed) uit te haal.
“Geluk beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Kan jy opreg sê dat jy gelukkig is? Fokus jy op jou slegte omstandighede of op die goeie oplossings?”
Mnr. Wessels se raad om ’n mooi en positiewe breintuin te begin, is om verantwoordelikheid vir jou eie keuses te neem, om jou emosies in lyn te bring en om groot te droom en nie teruggehou te word deur jou vrese vir mislukkings nie.
“Die Bybel sê dit wat die mens dink, dit is hy. Hoe jy dink, bepaal jou hele lewe, daarom moet jy die regte gedagtesaad saai. Die Israeliete het gesê Goliat is so groot, hulle kan hom nie verslaan nie. Dawid het weer gesê Goliat is so groot, ek kan hom nie mis nie!
“Dit waarop jy fokus, is dit waarop jou tuin groei. Jy kan kies waarmee jy daardie tuin gaan versorg – positiewe of negatiewe emosies.”
Die vroue wat die oggend bygewoon het, het eetgoed wat in Graceland se kombuis voorberei is, geniet en ’n sakkie met allerlei bederfies wat deur verskeie borge geskenk is, ontvang.
Elke tafel het ’n gasvrou gehad wat vir die tafelversierings en geskenkies verantwoordelik was.
Me. Marietha Cole, skoolhoof, was die seremoniemeester en mnr. Dieter Uken het die musiek verskaf.









