Local newsNews

Gilleam Viljoen staan sterk na motorfietsongeluk waar hy albei knieë breek

Rugbyspeler breek albei knieë en presteer in atletiek na operasies.

SECUNDA – Vir Gilleam Viljoen (17), gr. 12-leerder van Hoërskool Secunda, is opgee nie ’n opsie nie.

Toe sy droom van ’n rugbyloopbaan twee jaar gelede vernietig is toe hy albei sy knieë in ’n motorfietsongeluk gebreek het, het hy net sy visie verander.

Hy het derde geëindig in die diskus vir S0/19 by die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekkampioenskap wat vanaf 21 tot 24 Maart op Potchefstroom plaasgevind het.

Hy neem dié week aan die Suid-Afrikaanse Jeugatletiekkampioenskap (ASA) in die Kaap deel.

Nadat Gilleam in die ongeluk in 2016 was toe ’n taxi voor hom ’n U-draai gemaak het en hy met sy motorfiets in die taxi vasgery het, het dokters gesê hy sal nie weer sport kan doen nie.

Rugby was sy groot liefde en hy het vir die 0/12- en 0/13 Puma-rugbyspan gespeel.

Gilleam is as 0/14-rugbyspeler as die kaptein van die Bokkie-span gekies.

Also read: Man opslag dood op pad huis toe

Na die ongeluk het die dokter gesê hy glo nie sal weer kontaksport kan beoefen nie of dat hy lank sou moes wag om sy knieë genoeg tyd te gee om te herstel.

Gilleam het egter net ’n jaar na die operasies op sy knieë weer sy rugbytokste afgestof en vir die tweedespan gespeel.

Sy afrigters het hom egter na die eerstespan geskuif na net ’n paar oefensessies.

Hy het nie eers sy eerste wedstryd vir die eerstespan gespeel nie omdat hy tydens ’n oefensessie skeef getrap en sy knie weer beseer het.

Gilleam is na die Wilgers Hospitaal toe gehaas en sy dokter was kwaad omdat hy so gou weer rugby begin speel het.

“Ek moes dit net doen,” het Gilleam egter gesê.

Sy ouers het sy X-traalplate van sy knieë vir die Blou Bulle se fisioterapeut gestuur om sy mening te kry en hy het gemeen Gilleam sal weer kan rugby speel na sowat twee jaar as hy in dié tyd intense fisioterapie ondergaan.

Die gesin het egter daarteen besluit omdat hulle bang is hy beseer weer sy knieë.

“Ek het besef ek kan nie meer rugby speel nie en ek het my fokus na diskus geskuif. Ek moes net my droom ’n bietjie verander.”

Dokters het eintlik gesê hy mag ook nie aan diskus deelneem nie, maar hy ondervind geen pyn as hy diskus gooi nie.

Hy oefen ook daagliks in die gimnasium en hy en sy pa, mnr. Arno Viljoen, oefen graag saam as hulle die geleentheid kry.

Sy ouers het hom ondersteun in die moeilike tyd in sy lewe en sy ma, me. Guillaine Viljoen, het gesê gebed en ’n goeie ondersteuningsnetwerk het hulle gedra.

“Jy sien jou kind se drome verdwyn,” het sy gesê.

Hulle het groot geskrik toe Gilleam gesê het hy voel nie sy onderlyf nie toe hy sy ma geskakel het van die ongelukstoneel af.

“Ek het geleer om die lewe nie as vanselfsprekend te aanvaar nie,” het me. Viljoen gesê.

Gilleam glo God het ’n doel met alles.

“Sedert die ongeluk het ek geweet God het ’n doel vir my lewe en daar is ’n rede waarom alles gebeur,” het hy gesê.

Hy het gesê dit is vir hom te moeilik om nou na Hoërskool Secunda se eerste rugbyspan te kyk omdat sy maats saam met wie hy op laerskool al begin rugby speel het, in dié span is.

Hy kyk nou eerder na netbalwedstryde.

Gilleam hoop om na skool by Sasol werk te kry as ambagsman en dan deeltyds te studeer in meganiese ingenieurswese.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button