Sleepers Rest eersdaags ’n ruïne en hartseer gesig in die potbalkringe
Sleepers Rest word geplunder en stuk vir stuk weggedra na die gebou 'n tyd terug verlate gelaat is.

Sleepers Rest, soos die perseel bekend is op Ermelo, word ’n hartseer gesig vir die gemeenskap en veral in die potbalkringe van die omgewing.
Groot potbalkampioenskappe is eens in die gebou aangebied, maar het onlangs die hawe vir menige haweloses en ’n slagoffer van vandalisme geword.
Die gebou word stuk vir stuk weggedra en afgebreek.
Sinkplate word van die dakke af gesteel en badkamergeriewe word uitgebreek en weggedra.
Een van die vorige eienaars van Sleepers Rest het aan die Hoëvelder vertel dat hy die besluit geneem het om die onderneming te verkoop weens gereelde inbrake.
Lees ook: Toeriste, onder wie Katie Price, Donderdgaand by Warburton beroof
Volgens die Msukaligwa Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Mandla Zwane, is Transnet SOC Ltd die huidige eienaar van die gebou en het ook bevestig dat daar ’n agterstallige rekening van R176 647-30 is.
“Die laaste betaling is op 23 November 2015 gemaak, waarna die gebou se krag in 2015 afgesny is omdat die rekening 30 dae agterstallig was,” het mnr Zwane gesê.
Op die vraag oor wie verantwoordelik is vir die agterstallige rekening, het mnr. Zwane verduidelik dat die huurder van ’n perseel ’n rekening by die munisipaliteit oopmaak en die rekening op sy naam plaas, maar in die geval waar die munisipaliteit nie die huidige huurder kan opspoor nie, die eienaar van die gebou verantwoordelik gehou word.
Die Sleepers Rest Potbalklub is in 1996 geopen en die gebou is voorheen as behuising gebruik.
Dit was vir jare die huis van menige potbalspelers van Ermelo en was die plek waar groot name in die sport begin speel het.
Daar was ook op ’n latere stadium ’n veerpyltjieklub en die klubhuis is deur ’n plaaslike motorfietsklub gebruik.
Lede wat aan die potbalklub behoort het, het die klub beskryf as ’n familieklub, waar almal vir mekaar omgegee en mekaar gehelp groei het.
Die Hoëvelder het navrae by Transnet gedoen wat bevestig het dat hulle eers ondersoek moet instel of die gebou wel aan hulle behoort.



Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



