Local newsNews

Kunsvlyt-ster van Secunda verskyn eersdaags op realiteitsprogram

Letitia kan nie nou al verklap wie die program gewen het nie of hoeveelste sy geëindig het nie.

Me. Letitia Pelzer was een van die 10 finaliste wat vir die KykNet realiteitsprogram, Kunsvlyt, gekies is.

Volgens die vervaardigers het hulle sowat 1 600 inskrywings ontvang.

Me. Pelzer se vriendinne het haar aangemoedig om in te skryf en sy het al vergeet dat sy ingeskryf het en gedink sy het nie ingekom nie, toe die vervaardiger haar geskakel en gesê het sy moet in Februarie na Carletonville vir die verfilming gaan.

“Dit was vreeslik lekker, ek het baie mense ontmoet en dit was die groot pret,” het me. Pelzer gesê.

Sy is lief vir helder klere en blomme en groot oorbelle, maar vir die program moes sy dit tuis los en haar klerekas met meer effeklere vul om saam te neem vir die verfilming.

“Ons mag nie helder klere of groot oorbelle gedra het nie, want dit beïnvloed glo die kamera’s. Ek moes toe sulke vaal en vervelige eenkleurklere koop,” het me. Pelzer gesê.

Sy hou daarvan om anders te wees en haar gunsteling kleure is oranje en rooi.

Me. Letitia Pelzer by die loodglasdeur wat sy vir die realiteitsprogram op KykNet, Kunsvlyt, ingeskryf het.

Me. Pelzer glo hoe meer kleure, hoe beter.

Sy moes vyf handvlytitems maak en foto’s van dit laat neem en vir die vervaardigers stuur om in aanmerking te kom vir die kompetisie.

Sy het ’n loodglasdeur, ’n mosaïektafel, ’n stensel wat sy teen haar eetkamermuur geverf het, ’n piouterboks en ’n gebedsvlag wat met tekstielverf gedoen is, ingeskryf.

Al die deelnemers moes vir twee weke na Carletonville gaan vir die verfilming en kon net vir hul families gesê het waarheen hulle was.

Me. Pelzer bedryf ’n handwerkwinkel van haar huis af en bied ook klasse in handwerk aan.

Tydens die verfilming het hulle soms tot vier episodes in een dag verfilm en in elke episode het die deelnemers ’n nuwe uitdaging gekry.

Me. Letitia Pelzer by haar eetkamermuur waarop sy ’n stensel gemaak het wat sy ook vir Kunsvlyt ingeskryf het.

Hulle is net voor die episode ingelig oor wat hulle moes maak en het dan net twee ure gehad om dit te maak.

“Die tyd was bietjie van ’n uitdaging vir my, want as ek hier in my winkel iets maak, kan ek vir ’n kliënt sê dit sal oor twee weke klaar wees. Dan kan ek nog op die internet soek vir idees en dit verander en mooier maak, maar met Kunsvlyt se verfilming moes ons die items binne twee ure klaarmaak.”

Me. Pelzer het die ondervinding baie geniet en gesê hulle het baie gelag en moes soms dieselfde tonele tot vyf keer verfilm.

“Elke keer as iemand moes huis toe gaan, was jy bly dit is nie jy nie, maar jy was ook hartseer want jy het al die ander deelnemers leer ken en vriende gemaak.”

Lees ook: Louis is gemaklik met kwas in die hand

Sy mag nie nou al verklap wanneer sy huis toe gestuur is of wie die wenner was nie, want die eerste episode van die program begin eers op 6 April op KykNet.

Me. Pelzer en die ander deelnemers moet die res van die jaar by verskeie geleenthede optree en sy gaan ook in ’n tydskrif, Craft Creative Hobbies, verskyn.

“Dit gaan vir my interessant wees om te sien wat hulle gaan uitsaai van alles wat hulle verfilm het. As jy ’n fout maak en iets sê, is al die kamera’s op jou of as jy jouself brand met van die gereedska, is al die kameramanne daar.”

Sy het een van die episodes gewen toe sy ’n mosaïkmuuroorlosie moes maak.

“Ek is mal oor mosaïekwerk, dit is my gunsteling handewerk as ek moet kies tussen al die ander handewerke.”

Me. Letitia Pelzer se agterdeur. Haar suster se dogter het dit vir haar geverf.

Me. Pelzer is nie net gemaklik met ’n boor in haar hande nie, sy kan ook naaldwerk doen en haar man doen graag houtwerk.

“Soms baklei ons oor wie die kraggereedskap gaan gebruik.”

Ander kere werk hulle weer saam aan projekte en me. Pelzer beskou dit as groot pret.

Haar man, mnr. Kobus Pelzer, het gereeld in hul huis ingestap van die werk af, dan is die mure ’n ander kleur of van die goed in die huis is drasties verander.

Me Pelzer het hul braai-area met mosaïekteëls versier met al die kleure van die reënboog.

Lees ook: ShoNeill werk deesdae aan die bewaarwording van nog ’n droom

“Kobus wou net twee kleure gehad het, maar dit is vervelig.

“Ek het hy hoef net vir die rooster na die vleis te kyk en nie na die gekleurde teëls nie.”

Die egpaar woon al 11 jaar op Secunda en het voorheen in Pretoria gebly.

Me. Pelzer was verlede jaar lank in die hospitaal en moes ’n noodoperasie ondergaan nadat bloedklonte eers deur haar regter long toe in haar lies en later in haar been ontdek is.

Sy is nou gesond en gee graag handewerkklasse vir kerke, en sy bid graag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button