Nuwe oudioloog en arbeidsterapeut vestig hulself op Bethal
Bethal het die afgelope paar jaar nie arbeidsterapeute of oudioloë gehad nie en inwoners moes na Secunda of ander nabygeleë dorpe ry.
BETHAL – Me. Elri de Jager (29) en me. Melissa van Rensburg (25), oud-Bethallers, het onlangs hulself weer op dié dorp kom vestig, onderskeidelik as oudioloog en arbeidsterapeut.
Albei het op Bethal grootgeword, aan Hoërskool Hoogenhout gematikuleer en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer.
Me. Van Rensburg het aan die begin van Februarie na Bethal verhuis nadat sy haar gemeenskapsjaar in die grootste hospitaal in Mpumalanga, Themba Hospitaal, gedoen het.
Me. De Jager het aan die einde van Februarie haarself op Bethal gevestig nadat sy haar gemeenskapsjaar op Krugersdorp gedoen het en daar in ’n privaat praktyk as oudioloog gewerk het.
Bethal het die afgelope paar jaar nie arbeidsterapeute of oudioloë gehad nie en inwoners moes na Secunda of ander nabygeleë dorpe ry.
Me. De Jager geniet dit om met mense te werk en besoek ook skole om kinders se ore te toets.
Lees ook: Bethal pastor in custody for fraud amounting to R14-m
Sy werk ook gereeld met ouer mense wat gehoorstukke moet kry.
“Met vandag se nuwe tegnologie kan my pasiënte ’n toep (app) op hul selfone aflaai en ek kan dan sodoende hul gehoorstukke verstel,” het me. De Jager vertel.
Sy meen as kindes nie kan hoor nie, gaan hul spraak en taal nie ontwikkel nie.
“Spraakprobleme onder kinders is gewoonlik weens probleme met hul gehoor.”
Me. De Jager is ’n kranige perderuiter en speel ook polocrosse.
Sy het op ’n plaas grootgeword en is getroud met ’n boer, mnr. Johan de Jager.
Me. Van Rensburg glo arbeidsterapeute en oudioloë se werk gaan hand aan hand en haar passie is om kinders van geboorte af tot 16 jaar wat leerprobleme het of gestremd is, te help.
“Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe is die belangrikste, want dan word sy fondasie gevorm,” het me. Van Rensburg gesê.
Sy glo kindes moet deur hul lywe leer en help hulle ook om só te leer as hulle haar besoek.
“Ek sal die kinders byvoorbeeld op ’n driehoek of sirkel laat loop en hulle dit laat teken en voel met hul hande.”
Sy wil meer op gestremde kindes fokus omdat daar ’n groot behoefte vir hulp vir dié kinders in die gemeenskap is.
Me. Van Rensburg is by haar kerk betrokke en is ’n selleier.



