Brandon Hughes (17) en Shannon Troskie (13) is die twee tieners wat dood is in die ongeluk tussen Secunda en Evander
Pa sal seun en stiefdogter as twee liefdevolle kinders onthou wat lief was vir diere.
Brandon Hughes (17) en Shannon Troskie (13) is Maandag, 9 April in ’n ongeluk op die P185-pad tussen Evander en Secunda dood.
Die ongeluk het naby Skyhill gebeur en na wat verneem word, het die bakkie waarin die twee kinders, Shannon se ma en haar boetie, Triston Troskie (8) gery het, agter in ’n vragmotor vasgery.
Me. Michelle Troskie is met ernstige beserings in Witbank Hospitaal opgeneem en het gebreekte bene en ribbes.
Triston is in ’n hospitaal in Johannesburg opgeneem en het ’n arm en ’n been gebreek en sal moontlik binne die volgende paar dae ontslaan word.
Volgens mnr. Norman Hughes, Brandon se pa en me. Troskie se verloofde, het die twee seuns agterop die bakkie gesit en me. Troskie en Shannon was voor in.
Lees ook: [UPDATE] Mother and son (8) still in hospital after accident between Evander and Secunda on Monday
Brandon was ’n leerder van Jim van Tonderskool op Bethal en Shannon sou Dinsdag, 10 April by Hoërskool Evander begin het.
Die pad was vir langer as twee ure gesluit om die ongelukstoneel op te ruim.

Noodwerkers het gesukkel om die kinders uit die wrak te kry.
ER24, Langamed Suid Ambulansdienste, sekuriteitsdienste en die Govan Mbeki munisipale brandweer was op die toneel, asook insleepdienste.
Mnr. Hughes het gesê hy sal Brandon onthou as iemand wat lief was vir diere en hy was ’n buitelugmens.
“Hy het gehou van visvang en was altyd baie hulpvaardig en het gehelp waar hy kon,” het mnr. Troskie gesê. Hy was liefdevol en ek gaan hom baie mis waar hy my altyd in die motorhuis gehelp het of waar ons tyd by die viswater bestee het.”
Hy het gesê Shannon was altyd vriendelik en het gehou van musiek.
“Sy het ook ’n groot liefde vir diere gehad en was ’n baie sagte en nederige kind.”
Die begrafnisreelings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Mnr. Hughes en me. Troskie werk albei op Secunda.
Begrafnisreëlings was nog nie teen Dinsdag bekend nie.



