[VIDEO] Gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland moet dringend operasie kry
Bianca sal dit nie maak sonder operasie van minstens R700 00 nie.
SECUNDA – Bianca Fourie (16), ’n gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland, is met skoliose gebore en moet ’n operasie ondergaan om dit reg te maak.
Dié operasie kos sowat ’n miljoen rand en Bianca se ouers het nie ’n mediese fonds nie.
As hulle nou R200 000 bymekaar kan kry, kan sy solank in die hospitaal opgeneem word.
Bianca se rug het sedert geboorte pyn veroorsaak, maar dit vererger nou.
Toe sy agt jaar oud was, het sy ’n rugstut begin dra wat effense verligting gebring het, maar die groot probleem is dat daar nie plek in haar borskas is vir haar longe om 100 persent te werk nie omdat die rugstring in ’n S-vorm is.
Volgens haar pa, mnr. Gustav Fourie, het dokters haar rugsting verlede week gemeet en dit is al 130 grade gebuig.
“As sy nie baie vinnig ’n operasie kry om haar rugstring te herstel nie, sal sy dit nie maak nie,” het mnr. Fourie gesê.
“Sy sukkel om asem te haal en dit is tans ons grootste bekommernis.”
Bianca gebruik reeds ’n suurstofmasjien om haar te help om asem te haal.
Volgens haar pa gaan sy minstens twee tot drie maande in die hospitaal moet deurbring om haar rugstring so reguit as moontlik te maak voordat sy geopereer word.
Dié operasie duur bykans 10 ure.
Haar ouers se hoop was sedert 2015 op ’n staatshospitaal om haar te opereer en sy was op ’n waglys by dié hospitaal, maar hulle het onlangs gesê hulle het nie meer ’n spesialis om dié operasie te doen nie.
Bianca het verlede jaar vir skanderings by dié hospitaal gegaan en in die begin van vanjaar het hulle gesê hulle kan haar nie help nie.
“Mense wat in ongelukke was, lê al maande in dié hospitaal en wag om gehelp te word,” het mnr. Fourie gesê.
“Bianca het flou geval by die skool omdat sy nie kon asemhaal nie.
“Dit is nie lekker om jou kind só te sien nie en ek as ouer voel magteloos, want ek kan niks vir haar doen nie.”
Bianca is deel van Hoërskool Oosterland se orkes en was op 30 Maart op ’n kamp saam met die orkes toe sy haar ma, me. Madeleen Fourie, geskakel en gesê het sy voel nie lekker nie.
Lees ook: Disgruntled locals stop R560 million Bethal Hospital project
Haar tannie in Johannesburg, me. Annetjie Opperman, het haar by die kamp in Pretoria gaan haal en sy het later só van pyn gekla en dat sy nie asem kry nie, dat hulle haar na die hospitaal geneem het.
Me. Fourie het haar gaan haal en na dokters in Johannesburg geneem.
Sy en Bianca het vir langer as ’n week by familie in Johannesburg gebly omdat die dokters en hospitale nader is.
“Ek kon in die laaste ses maande sien hoe Bianca se rugstring verswak het,” het mnr. Fourie gesê.
“As sy die operasie kry, is daar ’n moontlikheid dat sy na die operasie nie meer sal kan loop nie.”
Bianca kon tot dusver normaal skoolgaan, maar na die terugslag weet haar ouers nie of sy sal kan teruggaan skool toe nie.
Sy sukkel nie net om asem te haal nie, maar ook om te eet en word gou moeg.

Sy het op 4 April ’n dokter in Johannesburg besoek wat gesê het dit lyk of sy inflammasie tussen haar ribbes het en dat sy kan sien dat Bianca baie pyn ondervind.
Die gesin het al die radioprogram Good Morning Angels genader vir hulp, maar hulle kan glo nie help nie.
Die gesin het ook die Child Medi Organisation, ’n organisasie wat hulp verleen aan kinders met mediese toestande, genader.
As jy Bianca wil help of ondersteun, skakel me. Opperman by 072 693 8278.
Child Medi Organasation se bankbesonderhede is FNB, rekeningnommer 626 325 81056, takkode 250655, die verwysing is Bianca Fourie en die eposadres is nadia@childmedi.org.




