Pastoor Gerda Volschenk sak by huis inmekaar en sterf Woensdag, 4 April
Familie en geliefdes neem afskeid van Gerda Volschenk Dinsdag tydens roudiens op Bethal.

BETHAL – Me. Gerda Volschenk (57), vrou van past. Nico Volschenk van die PPK Gateway Kerk op Bethal, is Woensdag, 4 April dood.
Past. Volschenk vermoed sy het ’n bloedklont gekry.
Hulle was by die huis en me. Volschenk was in die badkamer waar sy inmekaar gesak het.
Past. Volschenk het ’n slag gehoor en hy en sy dogter het gaan kyk en haar op die vloer aangetref.
Hy het vir haar gebid en haar oë het oopgegaan, waarna past. Volschenk ’n laaste paar woorde met haar kon praat voordat sy dood is.
“Ek het vir haar gesê sy moet net vasbyt,” het hy gesê.
Hulle het die ambulansdienste ontbied en ’n gemeentelid en suster wat naby die egpaar woon, geskakel.

Me. Marietha Venter het haar na die Volschenks se huis gehaas en me. Volschenk probeer bybring, maar tevergeefs.
Volgens past. Volschenk was die provinsiale ambulansdienste vinnig op die toneel.
Lees ook: Kevin se dood skok dorp
Me. Volschenk se roudiens het Dinsdag, 10 April vanuit die PPK Gateway-gemeente op Bethal plaasgevind.
Sy word oorleef deur haar man, ’n dogter en twee kleinkinders.

Haar familie sal haar onthou as iemand wat altyd bereid was om te help.
“Sy was ’n dienende Martha,” het past. Volschenk gesê.
“Niks was ooit te veel moeite vir haar as dit gekom het by ander te help en by te staan nie.
“As ons Spar toe moes gaan, het ek geweet dit gaan ’n lang gebeurtenis wees, want Gerda het altyd iemand raakgeloop wat sy ken en dan eers gesels.”
Me. Volschenk was ook ’n pastoor en die egpaar het die afgelope 17 jaar by die PPK Gateway-gemeente op Bethal bedien.
Sy was die lof- en aanbiddingleier en het ook al ’n CD met haar sang vrygestel.
Sy en past. Volschenk het albei by die Volle Evangelie Kerk studeer en het eers by die Roepersfontein Kerk op Kriel bedien voordat hulle na die PPK Gateway-gemeente beroep is.
Me. Volschenk is op Bethal gebore en het al die jare daar gebly.
Sy en past. Volschenk het mekaar 43 jaar geken en was vir 39 jaar getroud.



