Pastoor en rugbyspeler van Secunda, Werner Joubert, neem aan Survivor SA deel
Deelnemer geniet uitdagings ten volle. #WernerSurvivorSA
SECUNDA – Die pastoor van die Shofar Kerk en oudrugbyspeler van Sasol Rugbyklub, mnr. Werner Joubert, is een van die deelnemers aan die MNET-realiteitsprogram Survivor SA.
Dié program is reeds verfilm en begin Donderdag, 3 Mei om 7nm op MNET.
Past. Joubert is ’n gebore Kapenaar en het op Wellington grootgeword.
Hy is ’n gekwalifiseerde biokinetikus en het nou saam met die rugbyspelers en spanne by die sportwetenskapinstituut by Nuweland gewerk en later sy eie praktyk begin.
“Biokinetika was ’n natuurlike keuse vir my, ek is ’n mense mens en is mal oor sport,” het past. Joubert gesê.
“As biokinetikus kan ek mense met hul beserings help sodat hulle na die sportveld kan terugkeer.”
Hy het in 2011 sy praktyk vir die bediening verruil.
“Ek het in my eerste jaar as student my lewe aan Jesus Christus gegee en ek was daarna nooit weer dieselfde nie.
“Ek het begin om voltyds vir God te leef, of dit nou op die rugbyveld was of by my praktyk.
“Die Here het my in 2010 gelei om my praktyk te los en daarop te fokus om eers ’n leier in die kerk te wees en later as pastoor.
“Om ’n pastoor te wees, is nie beter as om voltyds te werk by enige ander plek nie, dit was net God se pad vir my.”
Past. Joubert het in sy studentejare reeds die Bybelskool by die Shofar Kerk voltooi en studeer tans verder vir sy graad in teologie.
Lees ook: Pastoor van Shofar Secunda Kerk verskyn binnekort op Survivor SA
“As ek kan, sal ek altyd studeer,” het hy gesê.
Past. en me. Juné Joubert het in 2013 na Secunda verhuis en die Shofar Kerk in Kaapstad vir Shofar Secunda verruil.
“Ek is nou ’n Secunda-man en is baie lief vir die dorp.”
Past. Joubert het in 2007 opgehou rugby speel en meer op fietsry en die Iron Man-kompetisies gefokus.
“Ek wou by die hart van die dorp uitkom en het vir Sasol Rugbyklub gespeel vanaf 2013 tot 2017.”
Hy het verlede jaar die eerstespan afgerig en sy visie vir vanjaar is om Sasol se nuwe afrigters, mnre. Jannie van der Merwe en JJ Hennop, te ondersteun en om die rugbyspelers geestelik by te staan.
Past. Joubert was nog altyd ’n aanhanger van die Survivor-reeks en ken die name van al 35 Amerikaanse seisoene asook die Australiaanse seisoene se wenners.
“Ek weet ook wat hul planne was en wat die domste en slimste bewegings op Survivor was.
“Omdat ek ’n mense mens is wat gereeld met mense werk en lief is vir sport, het ek Survivor beskou as die ideale plek om my vaardighede te toets.
“Ek het gebrand om deel van dié program te wees sedert ek die eerste keer na dit gekyk het.”
Past. Joubert mag nie veel verklap oor die reeks nie, maar het gesê dehidrasie is ’n groot gevaar, veral as ’n mens op ’n tropiese eiland is.
Die deelnemers het geen kos gekry nie en moes werk met wat hulle het. Hulle het wel water gekry.
“Om aan Survivor SA deel te kon neem was vir my bitter spesiaal. Ek was vier jaar gelede amptelik die mansreserwe vir die vorige seisoen, Survivor Champions.
“Ek was baie teleurgesteld toe ek by die huis moes bly en dié keer het ek elke oomblik aangegryp en geglimlag van dankbaarheid.
“Ek sal beslis weer gaan as ek die geleentheid kry.
“Die uitdagings het my getoets op maniere waaraan ek nog nooit voorheen getoets is nie.”
Hy was tydens die verfilming afgesny van die buitewêreld en sy familie en het gesê hy het sy kerkfamilie op Secunda baie gemis en baie vir hulle gebid.
“Dit het vreemd gevoel om van almal afgesny te wees en met niemand te kon kommunikeer nie.
“Ek het myself gedwing om elke oomblik van Survivor SA ten volle te geniet en ek het geweet my familie ondersteun my en sal wag totdat ek terugkeer.”
As past. Joubert in die Kaap gaan kuier, geniet hy dit om branderplank te ry en in sy vrye tyd lees hy graag, speel met sy seuntjie, studeer of oefen.
Hy geniet bordspeletjies met vriende en om pret te hê.




