Chantelle Prinsloo is lief vir Secunda en sy mense
Chantelle Prinsloo is die hoof van Curamus en om te help is iets wat van nature kom.

SECUNDA – Me. Chantelle Prinsloo (32) hou niks daarvan om stil te sit nie. Haar kop en hande moet besig bly.
Sy is by verskeie projekte in die gemeenskap betrokke. Dié kunstige donkerkop is die hoof van Curamus, ’n groep vrywilligers wat die polisie se hand versterk om hulp te verleen aan die gemeenskap in traumagevalle.
Dié gevalle sluit in sterftes, gesinsgeweld, ongelukke en enige ander gebeure in die gemeenskap waar mense berading benodig. “Ons span bestaan uit sowat 20 vrywilligers en elkeen het sy eie unieke veld van kundigheid,” het me. Prinsloo vertel.
Curamus val in by die gemeenskapspolisiëringsforum waar daar ook ’n traumakamer is.
Haar hart is gewortel in haar gemeenskap en dis juis waarom sy die Secunda Angels begin het. Dié groep help waar hulle kan met kos, klere en ander donasies om behoeftige mense in die samelewing te help.
Die idee vir die Secunda Angels het eintlik posgevat toe me. Prinsloo vir haar verjaarsdag nie geskenke wou hê nie, maar gevra het vir blikkies kos wat hulle onder behoeftiges versprei het.
Lees ook: Pastoor en rugbyspeler van Secunda, Werner Joubert, neem aan Survivor SA deel
Me. Prinsloo is op Vryheid gebore en het op Secunda grootgeword met drome om eendag in die filmbedryf te werk. Sy is ná skool stad toe waar sy haar graad in klankingenieurswese aan die filmskool verwerf het. Sy het vir ’n paar jaar aan groot televisieproduksies gewerk, soos Big Brother en Idols. Tydens een van die stil tye tussen reekse, het sy op Secunda vir haar ouers kom kuier en is ’n werk aangebied.
“Ek skryf graag. Ek geniet dit om toesprake vir kinders te skryf en dink ook allerlei projekte uit wat ek gewoonlik aan my vriendin, me. Oosie Oosthuizen, gee om tot uitvoering te bring,” het sy geskerts.
Een van die projekte is die onlangse Water aan die Kaap-projek wat sy eintlik op die agtergrond gedryf het.
Om te help, is iets wat van nature kom. Een van die dinge waaraan me. Prinsloo en die span van Curamus werk, is om briewebussies by skole te plaas waarin kinders anoniem briewe kan plaas oor wat in hul harte aangaan. Dit kan insluit enige onderwerp, van boelies tot finansiële behoeftes.
Hoewel me. Prinsloo se hart sag is vir haar gemeenskap, is sy ’n sterk mens wat al baie lelike dinge in die lewe gesien het en daardeur deernis ontwikkel het vir die mense wat op daardie oomblikke geraak word.
In haar vrye tyd help sy me. Oosthuizen om slange te vang.
“En ek werk aan ’n boek – ’n misdaadverhaal, maar dit vorder stadig.”



