NewsSchools

Meceila Brits (13) die “Zola Budd” van Secunda

Meceila presteer al op sportgebied van ’n jong ouderdom af en het, toe sy ses was al begin met landloop.

SECUNDA – Mense in sportkringe noem Meceila Brits (13), ’n gr. 7-leerder aan Laerskool Goedehoop, die Zola Budd van Secunda.

Sy verkies om kaalvoet aan atletiek en selfs landloop deel te neem.

Meceila presteer al op sportgebied van ’n jong ouderdom af en het, toe sy ses was al begin met landloop.

Sy het, toe sy 11 was, die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskap in George gewen en sy het ook aan die Suid Afrikaanse Atletiekkampioenskap deelgeneem.

Sy het vanjaar in twee items, 1 500m en 13 800m, aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap, wat onlangs op Paarl plaasgevind het, deelgeneem en onderskeidelik sesde en vyfde geëindig.

Sy het die beste tye in haar loopbaan tot dusver in dié twee items aangeteken.

Sy het ook in die 200m hekkies item by die Mussa Atletiekkampioenskap deelgeneem vanjaar en laas jaar aan die 150m.

Haar afrigter in landloop en atletiek is mnr. Michael Coller.

Meceila is nie net ’n kranige atleet nie, sy blink ook uit op die hokkie- en netbalveld.

Sy is verlede jaar vir die 0/12 Puma netbal A-span gekies asook vir die Gert Sibande hokkiespan.

Sy moes egter van die hokkiespan ontrek omdat dit met die netbal gebots het.

Meceila is vir vanjaar se 0/13A Mpumalanga hokkiespan gekies wat in Julie in Pietermaritzburg deelneem en sy neem tans deel aan die uitdunrondes vir die Mpumalanga netbalspan.

Die hokkie- en netbalkampioenskappe vir 2018 vind op verskillende tye plaas en Meceila sal dus aan albei kan deelneem.

Meceila was in gr. R by Laerskool Leeurspruit in Sasolburg en in gr. 1 by Laerskool Fonteine wat ook in Sasolburg is.

Toe sy gr. 2 toe gegaan het, het die gesin na Bethal verhuis waar sy ’n leerder aan Laerskool Marietjie van Niekerk was.

Sy was in dié skool tot gr.5 toe die gesin na Secunda verhuis het en Meceila na Laerskool Goedehoop begin gaan het.

Sy is tydens haar laerskooljare verskeie kere as die Sportdogter van die Jaar aangewys en op akademiese gebied blink Meceila ook uit en het al meer as een keer onder die top 10 akademiese leerders gedien.

Haar algehele gemiddeld vir die eerste kwartaal was 77 persent.

As dié jong sportster nie oefen nie, geniet sy dit om te dans vir ontspanning en het onlangs by die Step2Dream Dans-akademie begin dans.

Sy is ook deel van die landsdiens by die skool deel van die koor en sy het gesê van al die sportaktiwiteite en ander dinge, bly netbal haar gunsteling.

Haar droom is om eendag ’n professionele netbalspeler te word.

Meceila glo ’n mens moet woeker met jou talente en sy het gesê God het haar talente vir sport gegeeen sy probeer om altyd haar beste te gee in dit.

Sy is een van vier kinders en haar drie boeties, Leonardo (8), Jason (10) en Sakkie (11) staan nie terug op die sportveld nie.

Sakkie en Jason het ook verlede jaar hul Mpumalanga kleure in landloop verwerf en albei speel in die skool se A-krieketspanne.

Meceila se ma, me. Cornelia Brits, wil graag haar dogter help om haar drome waar te maak.

Om in die Mpumalanga hokkie- en netbalspanne te speel, sal Meceila se ouers sowat R14 000 moet opdok.

Belangstellendes wat Meceila wil borg, kan me. Brits skakel by 073 431 5605.

Meceila het reeds ’n aanbod van HTS op Middelburg gekry om volgende jaar soontoe te gaan, maar sy en haar ouers besluit nog.

As sy Middelburg toe gaan, sal sy gratis afrigting by ’n professionele afrigter kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button