Local newsNews

Geraldine Stoffberg begin behuisingsprojek

Helpende Hand se voorsitter wil behuisingsprojek op Secunda en omgewing begin.

SECUNDA – Me. Geraldine Stoffberg is sedert verlede jaar die nuwe voorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Secunda-tak.

Net drie maande nadat sy die leisels as voorsitter oorgeneem het, het sy Ons Winkel, ’n nasionale projek van Helpende Hand, oopgemaak.

Me. Stoffberg is ’n groot diereliefhebber en woon op ’n plaas waar sy ’n verskeidenheid apies en ander eksotiese diere as troeteldiere aanhou.

Haar droom was nog altyd om op ’n plaas te bly en Kerspartytjies vir behoeftige kinders te hou.

Dit is hoe sy by Helpende Hand betrokke geraak het.

“Ek het dit gesien as ’n geleentheid om kinders en behoeftige mense te help,” het sy gesê.

Sy het verlede jaar haar eerste Kerspartytjie as deel van Helpende Hand aangebied en sy en haar span het die Kosmos Kriel Kinderhuis besoek waar hulle die kinders met lekkergoed, eetgoed en geskenke bederf het.

Lees ook: Helpende Hand verbly Kosmos Kriel Kinderhuis se kinderharte

Nog ’n droom van me. Stoffberg is haar behuisingsprojek.

Sy het met dié projek begin toe Helpende Hand se Secunda-tak baie navrae van veral oumense gekry het wat behoeftig is en nie verblyf het nie.

“Baie bejaardes woon agter in iemand se erf in ’n Wendyhuis of in ’n kamertjie êrens.”

Haar projek is dus spesifiek vir minderbevoorregte bejaardes en sy wil hulle help met behuising deur ’n tehuis oop te maak.

Me. Stoffberg het reeds ’n perseel, maar sy moet drie maande se huur vooruit betaal en verbeteringe aan die gebou aanbring.

Sy het dus sowat R400 000 nodig om met dié projek te begin.

Bejaardes sal sowat R1 500 maandeliks betaal en sy het reeds ’n waglys.

Sy beplan om ’n verpleegster vir die tehuis aan te stel, en die oumense wat hou van kosmaak en tuinmaak sal help in die kombuis en die tuin.

Me. Stoffberg wil ook ’n groentetuin by die tehuis begin. Sy woon al agt jaar op Secunda en vanaf Port Elizabeth verhuis. Sy het na’ skool by verskeie ondernemings as bestuurder en in verkope gewerk en was ook vir ’n rukkie huisvrou nadat sy kinders gekry het.

Me. Stoffberg is al vir vier jaar die mede-eienaar van ’n plaaslike motorfietsonderneming wat motorfietse diens, regmaak en verkoop.

Haar man, mnr. Johnny Stoffberg, ry graag motorfiets en sy klim soms saam met hom op die motorfiets.

In haar vrye tyd bestee sy tyd met haar troeteldiere en as sy die kans kry, geniet sy dit om binnenshuise versiering of abstrakte kuns te doen of om iets te ontwerp en dit dan te maak.

As jy me. Stoffberg se behuisingsprojek wil ondersteun, skakel haar by 072 967 9991.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button