Local newsNews

Residentia Palmoord Ouetehuis lewer kommentaar oor 91-jarige vrou se toestand in Desember 2017

Bestuur sê bejaarde is nie mishandel nie.

BETHAL – Die Ridge Times het op 19 Januarie vanjaar berig oor ’n 91-jarige vrou wat by Residentia Palmoord Ouetehuis gebly het en daar volgens haar vriendin verwaarloos en vermoedelik geslaan is.

Die uitvoerende hoof van Residentia, mnr. Joe Duvenage, het in Januarie gesê dié klagtes sou behoorlik ondersoek word.

Volgens die bejaarde vrou se vriendin, was sy gereeld deurmekaar as sy vir haar gaan kuier het en het in Engels gesê: “Moet my nie slaan nie, ek sal nie weer my bed natmaak nie.”

Die vriendin het gesê: “Ek kon sien haar doek is nie gereeld geruil nie en sy het sere op haar boude gehad weens die vuil doeke.

“As ons daar gekom het, het ons haar in haar eie ontlasting gevind en dit was op haar bed, onder haar naels, orals.”

Die vriendin het gesê sy het die personeel gevra waarom hulle die bejaarde vrou nie skoonmaak nie, waarop hulle geantwoord het hulle was nog op pad.

Die vriendin het die bejaarde vrou uit die ouetehuis geneem en sy woon steeds by haar.

“Sy is baie gelukkig hier. Sy sit buite op die stoep en gaan saam kerk toe en na ander geleenthede,” het die vriendin gesê.

“Haar bene lyk baie beter en is nie meer so blou nie.”

Volgens mnr. Duvenage is alle opnamedokumentasie, versorgingsrekords en gesprekke met personeel en familie noukeurig nagegaan en die feite wat deur die Ridge Times gepubliseer is, is baie vaag, ongegrond en deurspek met teenstrydighede.

Lees ook: 90-jarige glo mishandel by Residentia Palmoord Ouetehuis

“Die inwoner se gesondheidstoestand is verswak en sy leef ook met demensie, wat nie deur ’n geneesheer gediagnoseer is nie, maar wel duidelik sigaar is vanuit die verplegingsrekords,” het mnr. Duvenage gesê.

“Ons is nie seker watter tipe demensie sy het nie, maar kenners sal kan verduidelik dat wanneer iemand met demensie leef, hul gedrag onvoorspelbaar is, hulle emosionele status baie onstabiel is en psigoses dikwels voorkom.

“Weeklikse en maandelikse monitering van bloeddruk en gewig toon goeie stabiliteit en hoewel die inwoner ondergewig is, het sy tog goed geëet.

“Daar is drie maandeliks assesserings gedoen ten opsigte van haar voedingstatus, aktiwiteite van daaglikse lewe, depressieskale, sowel as drukseer- en valrisiko’s.

“Sy het volle versorging gekry en is gehelp en ondersteun met al die aktiwiteite van haar daaglikse lewe.

“Indien sy vir dae lank met ’n vuil of nat doek gelê het, soos beweer, sou daar sekondêre komplikasies teenwoordig gewees het, soos dermatitis of infeksies of druksere, wat daar nie was nie.

“So ’n bewering beskou ek in ’n ernstige lig en my vraag is: ‘Hoekom is dit nie dadelik onder die bestuur se aandag gebring nie?’

“Die familie het die inwoner min besoek en die vriendin het erken dat sy haar net een keer per maand besoek het.

“Wat die foto van die inwoner se bene betref, dit het niks te doen met verwaarlosing of mishandeling nie.

“Dit is ’n toestand wat bekend staan as Stasis Dermatitis, wat ’n kroniese toestand is en algemeen onder bejaardes voorkom.

“Die primêre simptome wat geassosieer word met Stasis Dermatitis, is verkleuring van die vel, jeuk en droë vel en is die bene ook baie pynlik.

“Krap vererger die siekte en die veltoestand.

“Die oorsaak van dié toestand is weens swak sirkulasie, cholesterol, vaskulêre inkorting, bloeddrukprobleme, spatare en selfs kongestiewe hart- en nierversaking.

“Volgens gesprekke met die familie, tydens kennisgewing vir ontslag is daar nooit oor enige van dié beweerde probleme gekla nie en die familie was totaal onbewus van die klagte wat gelê is by die koerant.”

Die 91-jarige bejaarde se bene in Desember toe haar vriendin haar uit Palmoord gehaal het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button