Local newsNews

Bianca Fourie moet dringend operasie vir skoliose kry #HelpBiancaFourie

Oosterland-leerder benodig R800 000 vir operasie.

SECUNDA – Die Ridge Times het op 17 April oor Bianca Fourie (16) ’n gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland, berig wat dringend ’n operasie moet ondergaan.

Dié skool het ’n projek geloods om vir Bianca geld vir die operasie in te samel.

Sy was deel van Hoërskool Oosterland se orkes en speel steeds graag die klarinet as sy nie te sleg voel nie.

Bianca kon vanjaar na die eerste kwartaal nog nie weer terugkeer skool toe nie weens die skoliose waarmee sy gediagnoseer is.

Skoliose veroorsaak dat die rugstring kromtrek en Bianca se rugstring is al so krom dat dit haar organe platdruk en sy nie meer self kan asemhaal nie.

Sy is sedert die einde van die eerste kwartaal permanent aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en sy moet so gou as moontlik ’n operasie kry om haar rugstring weer reg te maak.

Sy is op laerskool met skoliose gediagnoseer en was op ’n waglys by die Steve Biko Hospitaal om die operasie te ondergaan, maar hulle het onlangs laat weet die spesialiste wat dié operasie moet uitvoer, is nie meer daar nie.

Bianca het op laerskool ’n rugstut gedra, maar dit is eers in die afgelope drie jaar wat die kurwe in haar ruggraat só vererger het en dat sy al hoe meer pyn ondervind het.

Die gesin het eers gedink Bianca sou ’n miljoen rand vir die operasie benodig, maar ’n organisasie wat hulle daarvoor beywer om kinders in nood te help, die Child Medi-organisasie, kon ’n goedkoper tarief met dokters beding en Bianca benodig nou net sowat R700 000 vir die operasie.

Hoërskool Oosterland en me. Lizelle en mnr. Armand Riekert, en me. Anzel Riekert, mede-eienaars van Oregan Spur, Panarotti’s en John Dory’s, reël op Donderdag, 24 Mei ’n geldinsamelingsaand vir Bianca.

Die plaaslike sanger en top finalis van The Voice, PJ Pretorius, gaan dié aand sing en die Teksa Modelvliegtuigklub gaan die wenner van lootjies wat hulle verkoop, aankondig.

Dié aand vind vanaf 6nm in die Secunda Mall plaas voor Oregan Spur en almal is welkom om dié projek te ondersteun.

Also read: Gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland moet dringend operasie kry

Bianca gaan op 7 Mei weer die dokter sien. Sy is tans in baie pyn en het gesê sy is nie een dag sonder pyn nie.

Sy kan nie baie beweeg of êrens heen gaan nie omdat sy aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is, maar sy loop daagliks om die huis om bietjie uit te kom.

“Ek is baie hartseer en mis skool en my maats by die skool, asook die orkes,” het Bianca gesê.

“Ek is bekommerd oor al die skoolwerk en eksamens wat ek nou mis.”

Haar vriendinne het haar al besoek en sy kan nie wag om gesond te wees nie.

Bianca wil nuwe dinge na die operasie probeer, soos om by die landsdiens aan te sluit en om weer haar plek in die skool se orkes in te neem.

Een van haar drome is om eendag saam met dolfyne te swem.

Haar ma, me. Madeleen Fourie, het gesê dit is vir haar baie moeilik om haar kind só te sien en haar grootste wens is dat sy weer gesond kan word.

Om Bianca te ondersteun of om betrokke te raak, skakel haar tannie, me. Annatjie Opperman, by 072 693 8278 of betaal geld in die Child Medi Organization se rekening by FNB, rekeningnommer 626 325 81056, takkode 250655 met die verwysing Bianca Fourie, of stuur ’n e-pos na nadia@childmedi.org.

Bianca Fourie en haar ma, me. Madeleen Fourie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button