Local newsNews

Nadine se lewe het so verbeter na operasie dat sy nou vir Bianca met mag en mening wil help #HelpBiancaFourie

Jong leerder samel geld in vir Bianca Fourie wat dringend operasie moet kry.

SECUNDA – Nadine Jansen van Vuuren (15), ’n gr. 10-leerder van Hoërskool Oosterland, het van Bianca Fourie (16) wat met skoliose gediagnoseer is en dringend ’n operasie moet ondergaan, gehoor en wil haar help.

Nadine is op laerskool met skoliose gediagnoseer, maar kon dadelik ’n operasie ondergaan om haar ruggraat reg te maak omdat haar gesin ’n mediese fonds het.

Bianca benodig sowat R800 000 vir die operasie omdat haar gesin nie aan ’n mediese fonds behoort nie.

Nadine se ma, me. Babsie Jansen van Vuuren, het in haar kamer ingegaan terwyl Nadine, toe in gr. 6, by haar lessenaar gesit en leer het en me. Jansen van Vuuren het gesien daar is fout met Nadine se rug.

Sy het geen pyn ondervind nie, maar haar ouers het haar steeds na die dokter geneem wat bevestig het dat sy skoliose het.

Sy het in gr. 7 ’n operasie ondergaan om haar ruggraat weer reguit te maak.

Lees ook: Bianca Fourie moet dringend operasie vir skoliose kry #HelpBiancaFourie

“Die ruggraat trek gewoonlik met skoliose ’n paar grade jaarliks nog skewer,” het me. Jansen van Vuuren gesê.

“Ons het besef dit is belangrik dat Nadine so gou as moontlik die operasie ondergaan, want in ’n paar maande het haar ruggraat met vier grade vererger.

“As ons dit nie so gou as moontlik laat doen het nie, kon sy dalk in ’n rolstoel beland het.”

Die operasie het agt ure geduur en Nadine kon daarna vir twee maande glad nie gesit het nie en net gestaan of gelê het.

Sy kon later vir ’n uur daagliks sit en later twee ure lê.

“Sy was baie sterk tydens en na die operasie en baie mense het vir haar gebid.

“Dit is net deur God se genade dat sy vandag gesond is en so goed herstel het na die operasie.

“’n Mens het baie vrae as jou kind met so iets gediagnoseer word, soos waarom, maar ons is dankbaar dit gaan nou goed met haar,” het me. Jansen van Vuuren gesê.

Nadine wou nog reksprong en valskermspring, maar dit is haar nie meer beskore nie.

Na die operasie mag sy aan geen kontaksport deelneem nie en mag dus nie meer netbal speel nie, maar dit pla haar nie.

Sy bak graag koeke en versier dit en sy geniet dit om saam met haar pa modelvliegtuie te vlieg.

Nadine bak al haar famielede se koeke vir spesiale geleenthede en het onlangs haar ouma, me. Bettie Nelson, se 80ste verjaardagkoek gebak en versier.

Sy sit ook baie moeite in met haar skoolwerk en was jaarliks, selfs die jaar waarin sy die operasie ondergaan het en skool gemis het, onder die top 10 akademiese presteerders.

Sy is ook by die skool se debatspan betrokke en doen landsdiens.

Nadine was hartseer toe sy by die skool van Bianca gehoor het.

“Van die meisies in my klas het die juffrou gevra vir gebedsversoeke om vir Bianca te bid en dit is hoe ek van haar gehoor het,” het Nadine gesê.

“Ek hoop sy kan so gou as moontlik geopereer word.”

Haar omgeehart en passie vir ander het haar laat besluit om by projekte wat geloods is om geld vir Bianca se operasie in te samel, betrokke te raak.

Nadine wil ook bewusmaking van skoliose doen omdat baie mense nie weet wat dit is nie.

Sy het almal op Secunda uitgedaag om betrokke te raak en te help om geld vir Bianca se operasie in te samel.

Haar pa, mnr. Johan Jansen van Vuuren, en lede van die Teksa Modelvliegtuigklub het besluit om betrokke te raak deur ’n vliegtuig wat deur mnr. Frikkie Oosthuizen geskenk is, uit te loot om geld vir Bianca se operasie in te samel.

Lootjies kan teen R100 gekoop word en een gelukkige persoon sal die modelvliegtuig, wat tussen R6 000 en R8 000 werd is, wen.

Mnr. Jansen van Vuuren gaan namens die klub die tjek op 24 Mei tydens ’n geldinsamelingsgeleentheid wat deur Hoërskool Oosterland se orkes by Oregon Spur in die Secunda Mall gereël is, oorhandig.

As jy ’n lootjie wil koop, skakel mnr. Jansen van Vuuren by 064 780 4036.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button