Kruik ondersteun projek vir verkragtingsslagoffers
Sentrum benodig waslappe, onderklere en handoeke.
SECUNDA – Me. Estelle Swart het drie jaar gelede ’n projek begin om handsakke wat gevul is met toiletware, in te samel en aan slagoffers van verkragting by die Thuthuzela Sentrum by Evander Hospitaal te skenk.
Me. Chanel Jones en me. Valerie van den Berg het besluit om by dié projek betrokke te raak en het al hul vriendinne, asook die vroue van die Kruik-gemeente aangemoedig om handsakke en ander items te skenk.
Kruik sal ’n afsetpunt vir dié projek wees en me. Jones en me. Van den Berg wil soveel as moontlik handsakke tot einde Mei insamel.
Dit items wat die handsakke bevat, is bra’s, broekies, sanitêre doekies, seep, waslappe en enige ander toiletware.
“Ons leuse vir vanjaar is om te gee is om te ontvang,” het me. Jones gesê.
Die kerk samel ook pakkies vir kinders in wat ook broekies, onderbroeke, lekkergoed en handdoeke bevat.
Sy en me. Van den Berg beplan om later vanjaar die Serving Hands-projek op Secunda te begin.
Lees ook: Riana Nel tree by Kruik Teater op
Die doel van dié projek is om huishoudelike werkers te bemagtig met kennis en vaardighede soos om ’n tafel te dek of naaldwerk te doen.
Me. Swart het onlangs ook begin om handdoeke in te samel omdat sy gesien het dat dit ’n groot nood is by die Thuthuzela Sentrum.
Handsakke van enige groottes, asook onderklere en handdoeke is welkom.
Dit kan by Kruik-gemeente afgegee word.
Me. Swart wil ook ’n stel poppe wat spesifiek gemaak word om kinders wat verkrag is te help met terapie, aanskaf vir die sentrum.
Dié stel poppe kos sowat R7 000 en me. Swart benodig donasies vir dit.
As jy dié projekte wil ondersteun of vir meer inligting, skakel me Chanel Jones by 017 634 7833 of me. Estelle. Swart by 083 652 7727.



