Residentia Palmoord Ouetehuis op Bethal maak nuwe huis oop vir mense wat met Alzheimersiekte en demensie leef
Die doel van die bestuur is om huislike omstandighede vir inwoners te skep.
BETHAL – Personeel, ouers en inwoners het Vrydag, 4 Mei die opening van Residentia Palmoord Ouetehuis se nuutste huis, Vergeet my Nie, bygewoon.
Vergeet my nie Huis is op dieselfde perseel as die ouetehuis en gaan hoofsaaklik inwoners wat met Alzheimersiekte en demensie leef, huisves.
Me. Ilse Haasbroek, hoofbestuurder van versorging van Residentia Ouetehuise, het gesê dit is gewoonlik vir die families van mense wat leef met Alzheimersiekte en demensie die moeilikste om dit te hanteer.
“Ons het ’n groot behoefte aan blyplek vir mense wat leef met Alzheimersiekte en demensie gesien en besluit om die huis oop te maak,” het me. Haasbroek gesê.
“Ons wil dit so huislik as moontlik maak en wil hê hul kinders moet hul kamers kom versier met hul eie gordyne en beddegoed wat vir hulle bekend is.
“Ons wil ook nie net omsien na die inwoners se fisiese behoeftes nie, maar ook na hul geestelike en emosionele behoeftes.
“Sensoriese stimulasie is belangrik vir hulle en ons gaan die inwoners van Vergeet my nie Huis laat skottelgoed was en help om kos te maak sodat dit soos ’n gewone huishouding vir hulle sal wees.
“Kinders en families neem baie keer dié takies van hulle af weg, want hulle dink hulle kan dit nie meer doen nie.”
Die bestuur van Residentia Palmoord Ouetehuis beplan om binnekort ’n Alzeheimer-ondersteuningsgroep te begin.
“Alzheimersiekte is kompleks en moeilik om te verstaan en ons personeel word opgelei om met die inwoners te werk.”
Die Vergeet my nie Huis kan 11 inwoners huisves en daar trek dié week reeds ses inwoners in.
Die bestuur wil graag eendag dié huis uitbrei en groter maak omdat hulle maandeliks aansoeke kry.
“Dit was ’n lang tyd se droom en visie van Residentia om dié huis oop te maak,” het me. Haasbroek gesê.
Residentia Palmoord Ouetehuis is geaffilieer met Alzheimer’s Suid-Afrika.
Lees ook: Palm-oord Residentia wil mense met Alzheimers help




