Bianca Fourie kry binnekort nodige operasie
Gemeemskap het al R227 000 vir Bianca Fourie ingesamel.
SECUNDA – Bianca Fourie (16) sal hopelik binnekort weer kan loop en terugkeer skool toe.
Dié gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland is met skoliose gebore en moet dringend ’n rugoperasie kry.
Die Ridge Times het op 13 April vir die eerste keer oor haar berig en die gemeenskap het sedertdien hul harte en hande oopgemaak en sy word Vrydag, 15 Junie by die Life Farie Glen Hospitaal geopereer.
Hoërskool Oosterland reël ’n geldinsamelingsgeleentheid vir Bianca op 24 Mei by Oregon Spur in die Secunda Mall.
PJ Pretorius gaan gaste vermaak tydens dié geleentheid.
Kyk ook: [VIDEO] Gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland moet dringend operasie kry
Lede van die Teksa Modelvliegtuigklub het ook ingespring om geld in te samel om Bianca te help.
Mnr. Frikkie Oosthuizen van dié klub het ’n modelvliegtuig wat tussen R6 000 en R8 000 werd is, geskenk om uitgeloot te word.
Die klub verkoop tans lootjies en belangstellendes kan op 24 Mei ook nog lootjies koop voordat die gelukkige wenner getrek word.
As jy ’n lootjie wil koop, skakel mnr. Johan Jansen van Vuuren by 064 780 4036.
Bianca se ouers het eers gehoor die operasie gaan sowat ’n miljoen rand kos, maar die Child Medi Organisation kon ’n beter tarief beding.
Haar ouers wag nog vir die dokters om die finale bedrag uit te werk, maar dit lyk of daar ’n moontlikheid is dat hulle die operasie vir haar kan uitvoer vir minder as R700 000.
Daar is reeds R227 000 vir Bianca ingesamel en haar tannie, me. Annetjie Opperman, het gesê as daar geld oorbly, sal dit aan die Child Medi Organisation, wat talle kinders landwyd help wat operasies benodig, geskenk word.
Die R227 000 sal aan die hospitaal oorbetaal word en die res van die geld sal deur die Child Medi Organisation oorbetaal word soos wat dit ingesamel word.
“Bianca het nou baie pyn en ons is só bly haar operasie is oor ’n maand en dat ons nie jare hoef te wag nie,” het me. Opperman gesê.
Almal is welkom om die geldinsamelingsgeleentheid op 24 Mei by te woon.
#HelpBiancaFourie





