Ermelo-man benodig geld vir rehabilitasiesentrum na brein-aneurisme
LJ de Jager het dringend hulp nodig om die laaste geld in te samel sodat sy familie hom na ‘n rehabilitasiesentrum kan stuur.
Mnr. LJ de Jager herstel goed nadat hy onlangs in die Steve Biko Hospitaal opgeneem is na ’n brein-aneurisme op 26 Maart.
Hy kan al self asem haal en sluk en hoewel hy nog nie gesprekke voer nie, sê hy wel kort sinne.
Mnr. De Jager moet ook weer leer loop. Hoewel sy linkerhand en been by die dag sterker word, kan hy nog nie sy arm buig om sy hand na sy skouer te bring nie.
Sy regterarm is nog baie swak en hy oefen met ’n rek.
“Hy is al 48 dae in die hospitaal en 18 dae in die höesorgeenheid,” het sy pa, mnr. Leon de Jager, gesê.
Sy herstel sal bepaal word deur hoe vinnig hy by ’n rehabilitasiesentrum kan uitkom om met intensiewe en gereelde rehabilitasie te kan begin.
Mnr. De Jager is tans in ’n akademiese hospitaal en word deur mediese studente wat in die hospitaal opgelei word, behandel.
Sy pa het verduidelik dat daar nie fout is met die gehalte van die versorging in die hospitaal nie, maar dat hulle stadig werk en tydsaam is.
“Almal met wie ons al gepraat het oor my seun se rehabilitasie, het uit een mond gepraat en gesê dat hy so gou as moontlik met intensiewe behandeling by ’n spraak-, fisio- en arbeidterapeut en ’n sielkundige moet uitkom.”
Hy het gesê dat die terapeute se behandeling vir die eerste ses weke van rehabilitasie vinnig, aanhoudend en baie intens moet wees.
Lees ook: LJ de Jager in Steve Biko hospitaal na aneurisme bars
Mnr. De Jager het verder gesê dat sy seun baie aan en af dae het.
’n Sielkundige het aan die familie verduidelik dat hy nog baie gaan kwaad word omdat hy gefrusteerd met homself raak.
“Hy maak egter steeds grappe. Hy was nog altyd iemand wat ander kon laat lag en ons sien dit steeds daagliks in hom.”
’n Aneurisme kom voor wanneer ’n deel van die arteriewand verswak, wat dit dan toelaat om abnormaal te swel.
Ten tye van mnr. De Jager se opname in die hospitaal, was daar bloeding en gepaardgaande drukking op sy brein.
’n Angiogram is op 11 April gedoen om die skade te bepaal, asook om enige regstellings te doen. Na afloop van die assessering is besluit om “coils” in te sit.
Volgens sy pa was die proses ’n sukses, maar hy het ’n beroerte in die nag gehad, waarna hy nie kon praat nie en het ook die gebruik van sy ledemate verloor.
“Dit is vir ons as familie glad nie lekker om hom daar te los nie, ons het ook aan en af dae, maar ons gemoedsrus is dat ons weet dat die mense goed na hom kyk.”
Mnr. De Jager ook gesê dat die gemeenskap hulle dra in dié tyd en dat hulle nie besef het hoeveel lewens geraak word deur hul seun se toestand nie.
Hy het mense wat saam met hulle bid en vir hulle Woord gee, bedank.

Die koste van die rehabilitasie is tussen R5 000 en R6 000 per dag en die tyd vir rehabilitasie is gewoonlik tussen ses en agt weke.
Die totale koste vir ses weke se behandeling kan dus bykans R219 306 beloop.
Donasies wat op 11 Mei ontvang is, beloop R80 300.
Daar is ’n boekiekompetisie geloods en kaartjies kan teen R50 gekoop word om die laaste geld wat benodig word, in te samel. Twee Marie Vermeulen-Breedt guache/pastelsketse wat geraam is en ’n skaap kan gewen word.
Daar het ook intussen ander pryse bygekom wat gewen kan word. Die kaartjies is te koop by Artifact op Ermelo.
“Ons doen graag ’n beroep op die gemeenskap om ons te help om die geld wat nog benodig word, in te samel. Woorde kan nie ons dankbaarheid teenoor die gemeenskap beskryf nie,” het mnr. De Jager gesê.
Hy het ook gesê dat hulle sy seun se herstel in die Here se hande los en dat hulle glo Hy sal hul seun gesond maak.
Die Here het aan die gesin gewys dat hulle in dié tyd gaan leer om te wag, maar dat Hy terselfdertyd vir hulle sorg.
Mnr. en me. Ina de Jager bedien die Woord aan die ander pasiënte in hul seun se saal en bid saam met hulle.



