Local newsNewsSport

Nicole Lindeque gekies vir oefenkamp in Amerika

Jong atleet mik vir medalje volgende jaar.

SECUNDA – Nicole Lindeque (15), ’n leerder van Hoërskool Secunda, is deur die Sports Travel Africa-organisasie gekies om ’n sportkamp in Amerika by te woon.

Lindeque is Suid-Afrika se 0/15-spiesgooikampioen en het haar beste afstand van 45.46m vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap op Potchefstroom gegooi.

Sports Travel Africa het haar na die kampioenskap genader en wou eers hê sy moes aan ’n toernooi in Europa deelneem, maar dit vind dieselfde tyd as die Mpumalanga-netbalkampioenskap plaas en Lindque het toe die netbal gekies.

Sy is al die afgelope vier jaar deel van die Puma-netbalspan.

Sports Travel Africa het haar weer genader en gevra of sy sou belangstel in die sportkamp wat einde Junie in Florida in Amerika by die Tampa Universiteit plaasvind.

Lindeque het dadelik dié geleentheid aangegryp en by die kamp gaan sy deur van die beste sportafrigters in Amerika afgerig word.

Hulle gaan ook aandag gee aan sielkundige voorbereiding, liggaamskrag, dieet en voeding en strategie.

Die Mpumalanga-netbalkampioenskap eindig 28 Junie en op 29 Junie haal Lindeque, haar suster Allison en hul ouers ’n vlug na Amerika.

“Sy gaan dalk nie weer so ’n geleentheid kry nie,” het haar ma, me. Coulette Lindeque, gesê.

Die gesin beplan om ook Disneyworld en Miami te besoek na Nicole se kamp.

Lindeque het in gr. 6 by Laerskool Goedehoop begin spiesgooi en sy het nog elke jaar aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deelgeneem.

Toe sy 0/12 was, het sy 10de geëindig, toe sy 0/13 was derde en verlede jaar het sy 15de geëindig, sy moes toe al in die 0/15-ouderdomsgroep deelneem hoewel sy nog 14 was en vanjaar het sy die goue medalje ingepalm.

Sy het na vanjaar se Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap haar spies gebêre, maar sy het hom nou weer uitgehaal en afgestof om voor te berei vir die kamp in Amerika.

Haar afrigter is mnr. Willem (Vleis) van Zyl wat op sy dag ook ’n Suid-Afrikaanse spiesgooikampioen was.

Hy odersteun haar ten volle en meen die kamp in Amerika sal vir haar ’n wonderlike ondervinding wees.

Sy het gesê sy kan soms steeds nie glo sy is die nuwe 0/15 Suid-Afrikaanse spiesgooikampioen nie.

Lindeque gaan volgende jaar in die 0/17-afdeling deelneem hoewel sy dan nog 16 jaar oud gaan wees.

Haar mikpunt vir volgende jaar is om ’n goue, silwer- of bronsmedalje huis toe te neem by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap.

Sy oefen daagliks spiesgooi en presteer ook op akademiese gebied.

Sy sien baie uit na die oefenkamp in Amerika en die vakansie saam met die gesin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button