Me. Koekie van Nieuwenhuizen kan die stank van riool nie meer hanteer nie. Hulle probeer om skoon te maak, maar het nie die geld om 'n privaat loodgieter te laat uitkom nie.
Die Hoëvelder het onlangs klagtes van die gemeenskap ontvang oor die munisipale behuising in Murraystraat waar bejaardes woon.
Die stank van riool hang swaar in die lug en volgens ’n inwoner word daar geen onderhoud op enige van die huise op die perseel gedoen nie.
“Al ons klagtes val op dowe ore en ons oproepe na die munisipaliteit word afgesny.”
’n Ander inwoner het vertel dat sy nie kan waag om haar vensters oop te maak nie, omdat die stank van riool in hul huise intrek.
Straatligte op die perseel wat nie werk nie, is glo reeds vier jaar gelede by die munisipaliteit aangemeld, maar dit is steeds pikdonker in die aande, wat die inwoners sagte teikens maak. ’n Inwoner het ook die watermeters op die perseel op eie koste laat skuif omdat vragmotors die meters stukkend gery het.
Die riool vloei oor die drein wat al vir ‘n geruime tyd geblok is.
Een van die inwoners het deur die trane vertel dat die huis waarin sy bly, uitmekaar val en die gat wat in haar kombuis se dak is, ’n koue wind in die huis inlaat.
“Ek is baie gelukkig hier want ek het ’n dak oor my kop, maar ons kan nie met die min geld wat ons kry alles self regmaak nie,” het sy gesê.
Die geute van al die huise is deurgeroes en in sommige huise is krake duidelik sigbaar. Een van die inwoners wat alleen bly, het ’n waterrekening van bykans R3 000 ontvang nadat sy volgens die inwoners ’n waterpyp wat lek by die munisipaliteit aangemeld het.
Die perseel se inwoners sny self die gras, maar geen vullis word weggery nie en die tuinvullis hoop op.
“Dit raak ’n broeiplek vir alle peste en siektes en ons kan dit nie self wegry nie,” het een van die inwoners vertel.
Inwoners van die woonstelle in Murraystraat maak die riool wat ’n konstante probleem is, skoon. (Foto: Verskaf)
Iemand wat die ergste onder die rioolprobleem ly, het vertel dat sy die probleem vroeg in Februarie reeds aangemeld het. Munisipale werkers het een van die dreine op die perseel oopgemaak, maar inwoners het twee dae later weer met dieselfde probleem gesit.
Die inwoner het ook vertel dat as iemand wel uitkom om die dreine oop te maak, hulle die gemors nooit skoon maak nie.
Inwoners meen hulle is altyd siek en word nie gesond nie.
“Geen persoon kan gesond bly met die riool wat permanent om ons huise vloei nie.”
Die Hoëvelder het navrae by Msukaligwa Munisipaliteit gedoen, maar geen terugvoer teen druktyd ontvang nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!