Andries Lee stig noodduikeenheid op Secunda
Duikeenheid benodig borge vir toerusting en opleiding.
SECUNDA – Mnr. Andries Lee se droom om ’n duikeenheid op Secunda te begin, het waar geword toe hy onlangs die Delta 1 Rescue Diving Unit as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer het.
Mnr. Lee was in die polisie en het jare se ondervinding as polisieduiker.
Hy het later by die polisie bedank en vir ’n sekuriteitsonderneming gewerk voordat hy sy droom verwesenlik het.
Sy twee direkteure wat die eenheid saam met hom begin het, is mnr. Blackie Swarts, ook ’n oudpolisieman, en sers. Jacobus Nagel wat steeds ’n polisieduiker is.
Mnr. Lee het sy werk as sekuriteitsbestuurder op die myne bedank om voltyds op Delta 1 te fokus.
Omdat Delta 1 ’n nie-winsgewende organisasie is, maak hulle op borgskappe staat vir toerusting en om nuwe duikers op te lei.
Delta 1 werk nou saam met die polisie en het reeds op verskeie tonele gehelp sedert die eenheid op die been gebring is.
Die polisieduikers kom soms vanaf Middelburg en Mbombela en dit neem hulle lank om tot op Secunda te kom.
Dít het mnr. Lee laat besluit om ’n duik- en noodeenheid wat naby is, te stig wat dus binne minute op ’n toneel kan wees.
“Ons doen dit vir die gemeenskap om die gemeenskap te help,” het mnr. Lee gesê.
Hy het die afgelope paar jaar aktief aan gemengde gevegkuns deelgeneem, maar nadat hy agt maande gelede ’n heupvervanging ondergaan het, oefen hy nou eerder in die gimnasium.
Mnr. Swarts was in Durban in die polisie en het later bedank en op Sasol in sekuriteit gewerk voordat hy sy eie sekuriteitsonderneming in 1991 begin het.
Hy het ’n passie vir 4×4-voertuie en Delta 1 se volgende mikpunt is om by ’n organisasie wat noodwerk in Gauteng doen en spesifiek 4×4-voertuie gebruik, betrokke te raak.
Mnr. Swarts was destyds die medestigter van die 4×4-klub op Secunda en het 4×4-dae gereël.
“Sommige tonele kan net met ’n 4×4-voertuig bereik word en as ons lede is van daardie organisasie, kan ons hul hulp ook na ’n noodtoneel inroep,” het mnr. Swarts gesê.
Mnr. Lee glo om te duik en om veral lyke uit te duik en noodtonele te hanteer, is ’n gawe van die Here.
“Dit is nie enige iemand wat dit kan doen nie,” het hy gesê.
Delta 1 kan help om liggame te vind in water sodat geliefdes vrede kan vind. Hulle gee terugvoer oor wat met die slagoffer gebeur het en stel verdere ondersoek in.
Hulle kan ook gesteelde goedere vind en verder ondersoek instel.
Hulle bied hulp aan mense wat in onmiddellike gevaar verkeer en sluit gebiede in waar damme, rivier en berge is en hulle kan die hulp van opgeleide honde inroep om te help soek as dit nodig is.
Toerusting wat benodig word, is onder andere ‘n kompressor op ‘n sleepwa om leë silinders te vul, ‘n klein kragopwekker vir noodligte en soeklig, volgesig maskers (2), duikpak, verskillende soorte toue, boei- en oppervlakmerkers, ‘n sak waarin ‘n liggaam gesit word en ‘n gazebo en vloermat (groen), asook ‘n reaksievoertuig (4×4) wat duidelik gemerk is met noodligte, ‘n sleepstang en ‘n hystoestel.
Delta 1 se doel is om soek- en reddingswerk te verrig, misdaadvoorkoming in samewerking met die polisie, inpeksie van damme en riviere, om skole en die gemeenskap van waterveiligheid in te lig, praktiese duikvoorstelling aan die gemeenskap en skole te gee, noodhulpopleiding in samewerking met Langamed en Sasol en om ‘n noodsaaklike diens te lewer, veral ten opsigte van verdrinkingsvoorvalle.
Vir meer inligting of as jy Delta 1 wil ondersteun, skakel mnr. Lee by 072 335 4442.
https://www.citizen.co.za/ridge-times/107382/andries-wants-to-open-rescue-unit/



