SECUNDA – Me. Janine Faulha (26) rig 38 laerskoolatlete af en geniet haar werk as biokinetikus.
Sy het begin deur net drie laerskoolatlete af te rig en het nooit gedink die groep sal so vinnig groei nie.
Me. Faulha was self ’n kranige naelloopatleet op haar dae en het tot op universiteit jaarliks aan atletiek deelgeneem en provinsiale kleure verwerf.
Sy het gesê sy het baie hekkiesatlete omdat almal deesdae hekkies wil hardloop.
“Ek motiveer al my kinders om op laerskool aan minstens drie items deel te neem, omdat hulle nog besig is om te groei en nie regtig weet of hulle goed is in net een item nie.
“Hulle kies gewoonlik op hoërskool net een item en fokus dan daarop.”
Me. Faulha meen naellope is ’n moeilike item vir laerskoolatlete omdat hul spiere eintlik eers op hoërskool ontwikkel.
“Die outjie wat op laerskool die vinnigste gehardloop het, gaan nie noodwendig op hoërskool ook die vinnigste wees nie.”
Me. Faulha het aan Hoërskool Hoogenhout gematrikuleer en het na matriek in biokinetika aan die Universiteit van Potchefstroom gestudeer.
Na haar studies het me. Faulha ’n geleentheid gekry om by die Sportwetenskap Instituut van Suid-Afrika in die Kaap te werk.
Mnr. Mike van der Walt, biokinetikus en atletiekafrigter by Hoërskool Secunda, het haar geskakel en werk op Secunda aangebied.
Me. Faulha het op skool by mnr. Van der Walt geoefen en besluit om ook in biokinetika te studeer.
Sy het in haar laaste jaar op universiteit met atletiek opgehou nadat sy twee keer in twee maande dieselfde spier beseer het.
As sy nie werk nie, oefen sy graag in die gimnasium en bied “spinning”-klasse aan.
“Dit is vir my baie vervullend om mense wat sportbeserings het, te help om weer te herstel of mense wat byvoorbeeld al twee jaar met ’n seer knie sukkel en ons kan dan na ’n paar maande sien hoe dit verbeter.”
Sy geniet dit om sportkondisionering met haar kliënte te doen en het van rugbyspelers tot gimnaste as kliënte.
“Ek help hulle met hul vaardighede en om die sport beter te kan doen.”
Me. Faulha is ook by ’n organisasie betrokke wat jong atlete die geleentheid bied om oorsee te gaan studeer of aan byeenkomste deel te neem.
Sy het in Finland aan die Juhannuskisat-atletiekbyeenkoms deelgeneem terwyl sy op universtiteit was en ’n eerste plek behaal.
Sy het derde by ’n ander byeenkoms in Europa geëindig.
“In Suid-Afrika is atletiek nie so ver gevorderd soos in ander lande nie en die organisasie bied jong atlete die geleentheid om by top afrigters te oefen en daardie blootstelling oorsee te kry.”
Me. Faulha was verlede jaar by Usain Bolt se oefenkamp in Gauteng en is daar as die belowendste afrigter aangewys.
Dit was vir haar ’n eer en ’n voorreg om dié geleentheid by te woon en hoewel Bolt nie self daar was nie, het me.
Faulha die geleentheid gekry om by sy afrigters en span te leer.
In haar vrye tyd bestee sy graag tyd saam met vriende of kyk na rugbywedstryde, soos die Springbokke se toets teen Engeland.


https://www.citizen.co.za/ridge-times/79173/mense-moet-die-waarde-van-die-beroep-besef/



