Local newsNews

Secunda-man vertel van sy tweede kans in die lewe na gru-ongeluk

Hy moes basies van vooraf leer loop en skryf het, en moes weer leer praat, want sy stembande was weens die pype in sy keel beskadig

SECUNDA – Hoewel mnr. Renier van Heerden (42) al etlike operasies ondergaan het en baie pyn in die afgelope 18 maande beleef het, is hy dankbaar om ’n tweede kans op die lewe gegun te word.

Mnr. Van Heerden was in ’n trompop motorongeluk op 13 Januarie verlede jaar betrokke. Die bestuurder van die ander voertuig is op slag dood.

Dié ongeluk het omstreeks 8.15nm naby Kinross se polisiestasie gebeur toe mnr. Van Heerden vanaf sy werk op Leandra op pad huis toe was.

“Ek kan niks van die ongeluk onthou nie. Ek weet ek het 80km per uur gery en was in die buitenste baan. Ek het agterna gehoor die ander motoris se motor het myne reg van voor getref.”

Volgens mnr. Van Heerden se vrou, Antoinette, het hy op die toneel nog met mense om hom gepraat.

ER24-ambulansdienste het hom na die Mediclinic Highveld gehaas, vanwaar hy dieselfde aand na die Union Hospitaal op Alberton oorgeplaas is.

Sy lewer was geskeur, sy linkerbeen was op drie plekke gebreek en sy regterbeen op twee plekke, asook sy ribbes aan die regterkant en sy regterarm.

Mnr. Van Heerden het ook ’n diep sny aan sy regter oogbank opgedoen.

“Ek het twee en ’n half weke later in die hospitaal se waakeenheid wakker geword met pype wat oral uitsteek.

In die tyd dat ek in die hospitaal was, het ek sewe operasies ondergaan.

“Die lewer is reggemaak en ’n been in my skouer en een in my een voet is verwyder, my arm het penne ingekry en ’n stukkie van my heupbeen is verwyder om my elmboog op te bou.”

Mnr. Van Heerden glo sy herstel was egter verbasend vinnig.

Hy is in Februarie verlede jaar vanaf die waakeenheid na die rehabilitasie-eenheid in Aucklandpark oorgeplaas.

“Ek moes basies van vooraf leer loop en skryf en moes weer leer praat, want my stembande is weens die pype in my keel beskadig.

“Dit was baie moeilike tye, want ’n mens raak gefrustreerd, die pyn is erg en jy verlang baie huis toe.”

“Die eerste keer dat ek weer regop gestaan het, was eintlik ’n vreemde gevoel,” het hy vertel.

Mnr. Van Heerden het in die begin met ’n rolstoel en later ’n loopraam oor die weg gekom.

Vandag loop hy weer oudergewoonte met sy bekende drafstappie in Pick n Pay in die Secunda Mall rond waar hy as vloerbestuurder werk.

Al wat sy beserings verklap, is ’n effense mankheid en die littekens aan sy arm en oogbank.

Hy het ses maande later weer begin werk, maar moes ook tussendeur steeds operasies ondergaan.

Dit was in een van die aansterktye tuis dat sy seun, James, van sy fiets afgestamp is en hy ook tuis moes bly weens ’n operasie aan sy hand waarin ’n pen geplant is.

Mnr. Van Heerden werk al meer as 20 jaar in die groothandelbedryf.

Hy het as ’n sekuriteitswag by ’n kettingwinkel begin en homself opgewerk tot waar hy gehelp het om nuwe winkels op die been te bring.

Hy het juis by die nuwe Leandra Pick n Pay gehelp toe hy in die ongeluk was.

Hoewel hy volgende maand weer onder die mes moet kom vir ’n knievervanging, volhard hy dat dinge net goed gaan.

“Dit gaan elke dag beter as die vorige dag. Dit is hoe dit werk. Ek is dankbaar om steeds by my vrou en kinders, James en Christie, te kan wees.”

Mnr. Van Heerden het gesê sy ma, me. Thea Smith, was die grootste ondersteuningskrag in sy tyd van nood. Sy het daagliks by sy bed gewaak, met hom gesels en hom moed ingepraat.

“Ek kan nie vir ’n beter ma vra nie.”

Noodwerkers spook om mnr. Renier van Heerden uit die wrak te bevry.
Mnr. Renier van Heerden in die hospitaal.
Só het die motor na die ongeluk gelyk.
Mnr. Renier van Heerden is dankbaar vir sy tweede kans op die lewe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button