Bianca Fouire sterk tuis aan na groot operasie
Bianca benodig nog geld vir nasorg na operasie.
SECUNDA – Bianca Fourie (16), gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland wat Vrydag, 1 Junie ’n operasie in die Life Faerie Glen Hospitaal in Pretoria ondergaan het, is weer tuis.
Bianca is met skoliose (’n skewe ruggraat) gebore en dit het die afgelope paar jaar só vererger, dat sy na die eerste kwartaal nie kon terugkeer skool toe nie en dringend ’n operasie moes kry om dit reg te maak.
Dié operasie was noodsaaklik omdat Bianca se ruggraat haar organe teen mekaar vasgedruk het en sy gesukkel het om asem te haal.
Sy was in die laaste paar weke voor die operasie aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.
Haar ouers het nie ’n mediese fonds nie en Hoërskool Oosterland het verskeie projekte geloods om geld vir Bianca vir die operasie in te samel.
Mnr. Joe Koekemoer, ’n oud-Oosterlander en hospitaalbestuurder van die Life Faerie Glen Hospitaal, het gereël dat dié hospitaal die operasie baie goedkoper as ander hospitale uitvoer.
Die operasie was suksesvol en Bianca sterk tans tuis aan.
Sy benodig egter nog geld vir opvolgbesoeke, X-trale en fisioterapie.
Bianca moet oor ses weke vir ’n opvolgondersoek na die dokter wat haar geopereer het, asook die fisioterapeut gaan.
Sy sal dan weet hoe lank sy nog in die bed moet bly en wanneer sy weer kan terugkeer skool toe.
Volgens me. Madeleen Fourie, haar ma, het Bianca nog pyn.
“Sy kan egter nie meer wag om terug te gaan skool toe nie.”
Daar vind Vrydag, 27 Julie ’n R5-muntlegging by die Kruik Kerk se Nagmark plaas om Bianca te help om geld vir die laaste mediese kostes in te samel.
Die mark vind vanaf 4nm tot 8nm plaas en die muntlegging vanaf 5nm tot 7nm.




